24 Oktober 2022

Vyf…

Feite oor hulpmiddels vir spanoffisiere

  • Daar is ’n verskeidenheid van hulpmiddels by Biblioteek op Die Voortrekkers se webwerf te vind.
  • Volledige handleidings oor touwerk, seremonies en kaartwerk is beskikbaar.
  • Die Hoe om-boek wat in die begin van 2015 uitgedeel is, kan afgelaai word.
  • Leer deur speel is een van die beste maniere om te leer. Die Speletjiesboek van Die Voortrekkers het ’n verskeidenheid van speletjies.
  • Dit is Die Voortrekkers is ’n boekie wat kerninligting oor Die Voortrekkers bevat.

Lewenskuns

Die Lewenskunskursus is saamgestel vir Voortrekkeroffisiere om jeuglede in Die Voortrekkers beter te verstaan. Die Lewenskunskursus word tydens die opleidingsnaweek 25-27 November aangebied. Die Lewenskunshandleiding is by Biblioteek beskikbaar.

 

’n Belangrike komponent wat ’n rol speel in wie kinders vandag is, is die konteks waarbinne hulle grootword. Die diverse Suid-Afrikaanse sosiale, politieke, ekonomiese en kulturele omgewing speel ’n ongelooflike groot rol in hoe jongmense hulle wêreld ervaar. Hulle lewensbeskouing word hierdeur gevorm.

 

 

Veranderinge in die gesin

Materialistiese ingesteldheid van ons samelewing plaas baie druk op ouers om hoër inkomste te verdien, wat beteken minder tyd saam met kinders. Hoë egskeidingsyfers, enkel ouers, homoseksuele egpare, gesinsgeweld en molestering is ’n realiteit in ons hedendaagse samelewing. Afwesige en besige ouers lei tot aftakeling van gesagsfigure in die gesin.

Die Voortrekkerkode stel duidelik dat ’n Voortrekker ’n Christelike lewe lei en gesag aanvaar. Baie kinders word egter nie meer tradisioneel opgevoed waar goeie maniere en respek vir volwassenes aangeleer word nie. Hulle leer om hulle opinies te lig, te redeneer, om nie blindelings te luister bloot omdat iemand wat ouer is as hulle gepraat het nie. Dit kan lei tot waardebotsing op kampe omdat offisiere hierdie gedrag as disrespekvol en selfs uitdagend kan ervaar.

 

Media en tegnologie

Jongmense lewe op sosiale netwerke en op die internet, en word so gebombardeer met inligting; van geweld, misdaad en korrupsie, tot oordrewe seksuele en aggressiewe vermaaklikheidsvideo’s. Dit veroorsaak dat hulle te vinnig grootword en baie emosionele druk ervaar waarvoor hulle nog nie gereed is nie. Kinders wat sonder toesig toegang tot die internet het, kan blootgestel word aan pornografie en onwetend betrokke raak by kuberafknouing. Hulle kan self ook aanlyn geboelie word en blootgestel word aan kinderhandel.

Daar is ook die risiko dat die jeug die samelewing kwalik neem vir hulle verdraagsaamheid teenoor misdaad en korrupsie. Jong mense weet wat aangaan in die land en volg aktuele nuus deur TV, selfone en internet. Hulle sien mense wat wegkom met korrupsie, oproerige betogings van studente, grusame moorde in hul eie voorkamers. Al hierdie dinge het ’n uitwerking op ’n kind se lewensbeskouing.

Facebook skep dikwels ’n skewe beeld van die werklikheid wat jongmense dikwels minderwaardig kan laat voel. Mense skep ’n oordrewe prent van sosiale en suksesvolle lewens wat jongmense laat voel dat dit die norm is waarna hulle tevergeefs streef.

Omdat jongmense die wêreld onder hulle vingerpunte het, neig hulle om maklik verveeld te raak, en is hulle konstant honger vir avontuur en verwag hulle om vermaak te word. Dinge moet gebeur om hulle sodat hulle vermaak word.

 

Omgewing/gemeenskap

Moderne tegnologie open wêrelde vir jongmense waaraan hulle nooit andersins blootgestel sou word nie. Ironies genoeg krimp hulle wêrelde net soveel as gevolg van tegnologie en die huidige situasie in ons land. Dit is onveilig vir kinders om buite hulle huise te beweeg. Baie meer mense kies ’n toesluit-en-ry-lewenstyl of hulle finansiële toestand vereis dat hulle in meenthuise of woonstelle bly. Kinders word dikwels geïsoleer van hulle omgewings en daar bestaan amper nie meer iets soos ’n gemeenskapsgevoel nie.

Fisiese beweging word ingeperk omdat kinders op- en afgelaai word by die skool en dan voor hulle boeke of ’n rekenaar gaan sit of voor hulle televisie gaan sit en kyk. ’n Gevolg hiervan is dat kinders nie genoeg sensoriese stimulasie kry nie en hulle sit met opgeboude energie. In plaas daarvan dat hierdie energie op ’n positiewe wyse gekanaliseer word, bou dit op en word kinders geëtiketteer as hiperaktief. Kinders kry al hoe minder geleentheid om in die natuur te wees. Wanneer hulle die kans kry om in die natuur te wees, het hulle fisies nie die vermoë om te doen wat Voortrekkeroffisiere as vanselfsprekend aanvaar nie. Kinders is minder fisies en sukkel om ’n wandelpad te stap of om oor rotse te klouter.

 

Die huidige politiese en ekonomiese klimaat van Suid-Afrika

Daar heers grootskaalse onsekerheid in ons land: die ekonomie knyp en besighede kry swaar. Gewelddadige misdaad en moord is algemeen. Daar is studente-onrus op kampusse, universiteite en skole staar verengelsing in die gesig. Diskriminasie met betrekking tot keuring vir bepaalde studierigtings, toekenning van beurse en werksgeleenthede is sigbaar. Baie mense immigreer in die hoop op ’n beter toekoms.

Waar laat dit ons jongmense? Dis moeilik om positief te bly in ’n land met soveel onsekerhede, en jongmense het nie noodwendig die ervaring, die kognitiewe en die emosionele volwassenheid om dit te hanteer nie. Die Suid-Afrikaanse konteks het dus die potensiaal om interne konflik en onsekerheid by jongmense te skep, maar omdat hulle in ’n fase is waar hulle nog besig is om te ontwikkel, kan positiewe invloede nog ’n deurslaggewende rol speel in wie hulle is en hoe hulle oor die wêreld dink. Voortrekkeroffisiere en volwassenes het geleentheid om jongmense te help om sin te maak uit hulle ervaringe en waarnemings.

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!