26 September 2022

Vyf…

Nuttige items vir ’n kamp:

  • papierborde
  • wet wipes
  • haakspelde
  • swartsakke
  • toue

Wenke vir dié wat die vakansie gaan kamp

Kamp is die lekkerste deel van Voortrekkers. Op Voortrekkerkampe leer mens nuwe mense ken, jy doen avontuurlustige aktiwiteite en jy leer iets nuut. Om te gaan kamp, moet mens voorbereid wees. Jy kan nie met jou hoëhakskoene en jou wieletjietassie in die veld opdaag nie. Die beste manier om voorbereid te wees, is om vooraf te dink oor wat mens alles op die kamp gaan doen en daarvolgens jou tasse te pak.

 

Hier is ’n aantal wenke:

  • Onthou om ’n hoed vir die son in te pak. Hou wel in gedagte dat baie gebiedskampe ’n hoed as deel van die kampgroepering uitdeel.
  • In jou badsakkie kom die gewone goed: sjampoe, seep, haarborsel, deodorant, lyfroom, sonbrandroom, tandeborsel en tandepasta. Koop klein 100 ml reisbotteltjies en gooi die sjampoe en vloeibare seep oor in die botteltjies. Dit maak als minder morsig en dit vat minder plek. Daarby kan jy ook ’n naelknipper, sneesdoekies, wet wipes, Zam-Buk, muskietafweerder en pleisters inpak.
  • Publieke storte kan ’n uitdaging wees, so jy kan ’n ekstra paar plakkies inpak waarmee jy kan stort.
  • Baie belangrik van ’n bordesakkie is dat jy hom maklik moet kan vind tussen ’n skare van bordesakkies. Maak joune ’n helder kleur of interessante patroon wat jy vinnig sal herken. In die bordesakkie kom daar ’n skerp mes, vurk, lepel, klein lepel, beker, bakkie, bord, skottelgoedseep, sponsie en ’n vadoek. Daarby kan jy ook ’n plastiekglasie inpak. Vir gemak kan jy papierborde en weggooibare plastiese eetgerei inpak, maar dis nie baie omgewingsvriendelik nie. Sit jou papierborde en sponsie apart in ’n seëlbare plastieksakkie binne-in jou bordesak. Elke nuwe offisier van 2022 ontvang ’n spesiale bordesakkie as geskenk. Kontak Sinta in die hoofkantoor vir die bordesakkie.
  • ’n Flits vir die aande. Dit is baie belangrik dat jy altyd weet waar jy jou flits gebêre het, want as dit vinnig donker word en jy moet in die donker sonder jou flits vir jou flits soek, is dit moeilik. Mens moet ook altyd ekstra batterye vir jou flits hê.
  • ’n Buff is ’n nuttige en praktiese ding. Mens kan dit as ’n serp, kopband of sweetband gebruik.
  • ’n Tou is ook ’n nuttige ekstra om te hê. Jy kan dit as ’n wasgoeddraad span, of ’n gebreekte tent regop hou.
  • ’n Tolletjie grys gare en ’n naald. Dis nuttig as ’n knoop afval of ’n tent skeur.
  • ’n Waterbottel. Jy moet altyd ’n waterbottel by jou hê sodat jy nie dehidreer nie.
  • Moenie ’n reënjas vergeet nie.

 

Ons hoop dat elkeen wat gaan kamp, dit baie geniet.

Leiers in Die Voortrekkers

In 1934 het die destydse hoofleier, dr. NJ van der Merwe, in die eerste HOU KOERS geskryf: Die drie belangrikste prioriteite vir Voortrekkers is om jong Afrikaners te ontwikkel as leiers, leiers en nogmaals leiers. Die prioriteit is bevestig toe die Kongres in 2013 bevestig het dat Die Voortrekkers se strewe steeds is: “Jong Afrikaners as uitnemende leiers”. Die Voortrekkers is ’n organisasie van leiers. Op elke vlak van Die Voortrekkers is daar leiers – spanleiers, kommandoleiers, oordleiers, gebiedsleiers en nasionale leiers.

 

Die Voortrekkers verstaan nie leierskap as ’n posisie of rang nie. In Die Voortrekkers is jy nie eers ’n leier wanneer jy op die leerlingraad dien of as hoofseun, hoofmeisie of kaptein van jou sportspan verkies word nie. Die Voortrekkers beskou elke jeuglid as ’n leier in eie reg en bied aan elkeen die geleentheid om tot sy volle potensiaal as leier te ontwikkel. Die Voortrekkers beskou leierskap as die aanvaarding van verantwoordelikheid en die uitlewing van roeping deur diensbaarheid.

Hoe kweek ’n spanoffisier leierseienskappe by spanlede

Die Voortrekkers bied aan jeuglede ʼn veilige ruimte waarbinne hy/sy sy/haar leierseienskappe kan ontwikkel. Die spanoffisier moet sorg dat elkeen gelyke geleenthede kry om hierdie eienskappe op ʼn natuurlike manier te ontwikkel.

 

  • Van jongs af moet jeuglede die geleentheid gegee word om self dinge te beplan en te doen. Die spanoffisier moet nie alles self doen nie. Gee aan jeuglede verantwoordelikhede. Die spanoffisier kan help deur leiding te gee, raadgewend op te tree, regstellings te maak en te kontroleer. Begin in graad R of 1 alreeds deur klein werkies en verantwoordelikhede aan spanlede op te dra. Verkenners kan byvoorbeeld ʼn kamp of toer beplan. Hulle stel ʼn komitee met verskillende verantwoordelikhede saam, bv. oor aspekte soos besprekings, vervoer, verversings, noodhulp, ens.
  • Die ontwikkeling van leierseienskappe vorder namate die jeuglid blootstelling kry aan situasies waar hy/sy leiding en verantwoordelikheid moet neem. Vanaf graad 3 moet gepoog word om elke spanlid ʼn spesifieke verantwoordelikheid te gee. Die span help om die pligte uit te stippel. Die spanoffisier moet goeie leiding, kontrole en aanmoediging gee om te verseker dat die funksies wel uitgevoer word. Voorbeelde van sulke verantwoordelikhede is:
    • byhou van die spanjoernaal/foto-album/elektroniese fotoboeke
    • spanlid verantwoordelik vir die span se finansies
    • verantwoordelikheid vir die spanvergaderplek
    • verantwoordelikheid vir kommunikasie
    • die neem van foto’s
    • bemarking van die span
  • Die belangrikheid van klein oorwinnings moet nie onderskat word nie. Volwasse lede moet spanlede aanmoedig om deur te druk en nie tou op te gooi nie. Voltooi alles wat aangepak word. Dit wat die kind nie voltooi nie, doen afbreek aan die jeuglid se selfvertroue; daarenteen dra sake wat voltooi word by tot die groei van selfvertroue. Selfvertroue is die basis van leierskap. Spanlede moet leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir hulle dade. Hulle moet leer om te dink voor hulle doen.
  • Spanlede moet leer om opdragte te ontleed, ’n plan van aksie op te stel, te delegeer, behoorlike opdragte te gee (wie, wat, waar, wanneer en waarom) en te kontroleer dat alles volgens plan verloop.
  • Gee aan elke spanlid die geleentheid om leiding te neem. By Verkenners hoef die spanleier nie by elke geleentheid die leiding te neem nie; dit kan op rotasiebasis deur elke spanlid gedoen word.
  • Skep doelbewus geleenthede waar jeuglede leiding kan neem.
  • Jeuglede moet ook leer om leiding op die korrekte manier te aanvaar en om die leier te ondersteun.

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!