

Vyf…
Maniere om kreatiwiteit aan te wakker:
- luister na musiek;
- gaan stap ’n entjie (’n Stanford-studie het getoon dat stap, selfs in ’n bekende omgewing, jou kreatiwiteit ’n hupstoot kan gee.);
- doen iets op ’n ander manier, byvoorbeeld hoe jy aantrek;
- leef bewustelik;
- skryf idees neer. Deur idees neer te skryf, genereer mens meer idees.

Wat is kreatiwiteit?
Dit is moeilik om ’n definisie vir kreatiwiteit te gee. Daar is baie verskillende definisies van kreatiwiteit. Ons kan sê kreatiwiteit is…
- om anders na ’n saak te kyk;
- ’n ervaring;
- om vernuwend te dink;
- ’n nuwe lewensuitkyk;
- om ’n nuwe oplossing vir ’n probleem te ontdek;
- om ’n nuwe produk te skep;
- om ’n skets of tekening nuut te skep;
- rykheid en oorspronklikheid van denke;
- om ’n nuwe idee te hê en dit tot uitvoering te kan bring.

Mites oor kreatiwiteit
Net sommige mense is kreatief. Mense word dikwels in kategorieë verdeel, byvoorbeeld: Persone soos musikante, kunstenaars en argitekte is baie meer kreatief as ingenieurs, ouditeurs of wiskunde-onderwysers. As kreatiwiteit gaan om idees te genereer, is die stelling nie waar nie. ’n Programmeerder kan met ’n briljante idee vorendag kom of ’n program skryf. Die vakinhoud speel dus geen rol nie.
Net sommige idees is kreatief. Die meeste mense dink aan ’n kreatiewe idee as ’n deurbraakidee, maar dit is nie noodwendig dat al die ander idees nie ook goeie idees is nie. Dit is dalk net nie opspraakwekkend nie. ’n Oulike idee om ’n spanbyeenkoms aan te bied of as jy uitgevind het hoe iets werk, is ook kreatief.
Elke persoon is met kreatiwiteit gebore. Of jy nou evolusionêre of revolusionêre idees het, dit is binne elke persoon om kreatief te wees. Of jou idee eenvoudig, kompleks of prakties is, elkeen is kreatief. Almal is egter nie op dieselfde manier kreatief nie.

Kreatiwiteit en Voortrekkers
Daar is baie geleenthede waar kreatiewe denke in Die Voortrekkers aangemoedig kan word. Dit berus egter by die spanoffisier, kursusaanbieder, kommando- of kampleier. ’n Volwassene moet bepaalde denke, kennis en visie hê om kreatiwiteit aan te moedig.
Dit is belangrik dat kinders sal deelneem en dat daar geleentheid gegee word om hulle opinies te kan gee. Laat hulle self ’n spankamp beplan. Gee ook vir hulle probleme om op te los. Gee vir kinders probleemsituasies waar hulle geleentheid kry om vernuwend te dink. In die Voortrekkers is daar aktiwiteite soos ’n nagmars, skattejag, oorlewingskamp, hindernisbaan, vlotvaart, ensovoorts, wat ideaal vir kreatiwiteit is.
Wat kreatiwiteit smoor, is vervelige aanbied van graadwielwerk waar kinders moet sit en ’n spanoffisier die werk voorlees. Offisiere wat kinders afrig vir die Voorslag- en PV-proses en geen geleentheid gee vir lekker aktiwiteite nie.
In Die Voortrekkers is daar dus volop geleentheid om kreatiwiteit by kinders en offisiere aan te moedig. Daar is egter orals ruimte ter verbetering. Dit is egter die regte offisier met ’n bepaalde visie en passie wat kreatiwiteit laat gebeur. Dit is ’n offisier wat streef na uitnemendheid en ’n gretigheid het om nuwe dinge te leer en te gebruik.