30 Mei 2023

Vyf…

Feite oor Graaff-Reinet

Die PV-kamp en Voortrekkerkongres vind vanjaar in Graaff-Reinet plaas.
  • Graaff-Reinet is die vierde oudste dorp in Suid-Afrika en gestig in 1786.
  • Graaff-Reinet is ’n historiese dorp bekend vir sy Kaap-Hollandse argitektuur.
  • Die dorp het meer as 200 erfenisterreine, insluitend pragtig gerestoureerde geboue, kerke en museums.
  • Graaff-Reinet is vernoem na Cornelis Jacob van de Graaf en sy vrou Cornelia Reynet.
  • Die dorp word dikwels as die “Juweel van die Karoo” beskou vanweë die pragtige landskappe, oop ruimtes en helder sterre.

Digitale burgerskap

Digitale burgerskap verwys na die regte, verantwoordelikhede en gedrag van individue in die digitale wêreld. Dit behels die vaardighede, kennis en houdings wat nodig is om doeltreffend en verantwoordelik deel te neem aan digitale samelewings. Ons leer Voortrekkers van positiewe burgerskap en wat ons regte en pligte as landsburgers is. Ons leer ook Voortrekkers wat ons moet doen om ’n goeie landsburger te wees. Digitale burgerskap fokus op die aanlyn omgewing. Dit behels om respekvol en verantwoordelik in die aanlyn wêreld op te tree. Digitale burgerskap word in die Verkennerlewe bespreek.

 

Die kursus “Digitale burgerskap” is die eerste keer tydens die Nasionale Offisieresaamtrek van 2020 aangebied. Die doel van die kursus is om volwasse lede toe te rus om riglyne vir spanlede te gee om veilig en verantwoordelik in ’n digitale wêreld te wees.

 

Die kursus bestaan uit die volgende modules. Die volledige kursus met doelwitte en leeruitkomstes is by Biblioteek gelaai.
  • MODULE 1: WAT IS DIGITALE BURGERSKAP?

Om die kursusganger ’n algemene oorsig oor digitale burgerskap te gee.

  • MODULE 2: DIGITALE IDENTITEIT

Om die kursusganger bewus te maak van die belangrikheid van ’n aanlyn identiteit en reputasie.

  • MODULE 3: DIGITALE GEBRUIK (SKERMTYD)

Om die kursusganger bekend te stel aan die gevare van te veel skermtyd en oplossings te gee om ’n gesonde balans tussen die aanlyn lewe en die regte lewe te handhaaf.

  • MODULE 4: DIGITALE VEILIGHEID

Om die kursusganger bewus te maak van aanlyn risiko’s.

  • MODULE 5: DIGITALE SEKURITEIT

Om die kursusganger bekend te stel aan kubermisdade en oplossings te gee om nie ’n slagoffer te word nie.

  • MODULE 6: DIGITALE EMPATIE

Om die kursusganger bewus te maak dat empatie en goeie verhoudings in ’n aanlyn omgewing gehandhaaf moet word.

  • MODULE 7: DIGITALE KOMMUNIKASIE

Om kennis te maak met goeie beginsels van digitale kommunikasie.

  • MODULE 8: DIGITALE GELETTERDHEID

Om die kursusganger se kennis en vaardighede te ontwikkel om inhoud aanlyn te vind, te evalueer, te gebruik, te skep en te deel.

  • MODULE 9: DIGITALE REGTE

Om die wetlike en persoonlike regte van digitale media aan die kursusganger te ontsluit.

  • MODULE 10: AANBIED VAN DIGITALE BURGERSKAP

Om kennis te maak met metodes van aanbieding van digitale burgerskap vir jeuglede.

Kritiese denke

Kritiese denke word beskou as een van die belangrikste denkvaardighede vandag. Wat is kritiese denke? Kritiese denke is om sin te maak van uiteenlopende inligting deur die inligting te analiseer en te evalueer. Ten einde suksesvolle kritiese denkers te ontwikkel, is dit nodig om kritiese denke as onderrigbenadering te gebruik.

 

Hoe kan ons kritiese denke in Die Voortrekkers bevorder?

  • Moedig die vra van vrae aan. Jy as spanoffisier moet ook gereeld vrae vra. Daag jou spanlede uit deur vrae te vra oor kwessies waaroor hulle moet dink.
  • Laat jou spanlede debateer oor verskillende sake wat vir hulle relevant is.
  • Gee vir jou spanlede uiteenlopende perspektiewe en laat hulle ’n mening gee.
  • Moedig spanlede aan om nuuskierig te wees. Om nuuskierig te wees, is ’n vereiste vir lewenslange leer.
  • Gee vir jou spanlede probleme wat hulle moet oplos.
  • Laat spanlede aktief betrokke tydens spanbyeenkomste wees.
  • Selfrefleksie oor ’n aspek byvoorbeeld tydbestuur. In die aanlyn Leierskapsvaardighede Spesialisasie is daar ’n opdrag waar Verkenners hulle tydbestuur moet beoordeel.
    Hier is twee Verkenners se antwoorde:
  • Vraag: As jy jouself moet beoordeel, hoe is jou tydsbestuur? Watter foute maak jy en waarmee is jy goed. Brei kortliks uit.

Verkenner 1: “Ek dink dat ek redelik goed my tyd kan bestuur. Ek stel elke dag ’n lys op van prioriteite wat afgehandel moet word bv. skoolwerk en take en dan skryf ek ook neer wat ek gaan doen om myself te verbeter in daardie dag. Ek sukkel soms met onderbrekings soos bv. as ek huiswerk doen en iemand het vir my ’n boodskap gestuur, kan ek baie vinnig van my vorige taak afdwaal en minder gemotiveerd wees om dit te doen dan.”

Verkenner 2: “Ek is glad nie goed met tydsbestuur nie. Ek vat ’n dag soos hy kom. Ek hou baie daarvan om tyd te mors op speletjies en op YouTube. Ek moet definitief vir die eksamen my tyd beter bestuur om seker te maak ek het tyd om alles te leer.”

 

In ’n komplekse snelveranderende wêreld is dit belangrik dat jongmense vaardighede ontwikkel om probleme te ontleed, te evalueer en op te los. Daar moet wegbeweeg word van ’n binêre denkwyse van “reg”- en “verkeerd”-antwoorde na jongmense wat kan redeneer, kan oordeel, kan menings gee, oplossings vind, nuuskierig is met ’n ingesteldheid om lewenslank te bly leer. Die Voortrekkers is by uitstek ’n ideale omgewing om kritiese denke te ontwikkel.

Volg die skakel hieronder en toets jou kennis oor Voortrekkers!