

Vyf…
Feite wat jy van opleiding in Die Voortrekkers moet weet:
- Opleidingskursusse kan tydens opleidingsgeleenthede soos kampe en opleidingsnaweke aangebied word.
- Daar is egter ook oorde en gebiede wat kursusse bv. Spanhantering of die Intreekursus met Zoom aanbied.
- Die volgende kursusse kan aanlyn gedoen word: Intreekursus, Spanhantering, Voortrekkerbestuur en Kreatiwiteit.
- Daar is Zoom-opleidingsgeleenthede waar ’n spesifieke onderwerp aangebied word bv. sosiale media.
- Gebiede, oorde en kommando’s kan self opleidingsgeleenthede reël.

Opleidingsnaweek
Die Nasionale Opleidingsnaweek vind vanaf 25–27 November 2022 op Udolpho naby Parys plaas. Die Nasionale komitee Volwasse sake is besig om die kursusse en sessies vir die naweek te finaliseer. Voltooi asb. die vorm om aan te dui watter kursusse of sessies jy wil bywoon. Hierdie is net ’n opname om te bepaal wat tydens die naweek aangebied moet word. Voltooi asb. die vorm teen 9 Augustus. Volg die skakel na die vorm hieronder:

Vroue in Die Voortrekkers
9 Augustus is Vrouedag. Hier is ’n kort opsomming van drie formidabele vroue in die geskiedenis van Die Voortrekkers.
Nig Sterretjie het haar lewe gewy aan Voortrekkers, hard gewerk, planne gemaak en deurgevoer, en sy was baie geliefd. Sy help skryf aan die eerste PD-werkboeke. Volwasse opleiding het haar baie na aan die hart gelê en sy bied saam met Japie Heese ’n leierskursus by die Universiteit van Stellenbosch aan. Sy dien ook op die Hou Koers-komitee. Op die sestigste verjaarsdag van Die Voortrekkers in 1991, sterf Nig Sterretjie Verster. Tom Dreyer skryf in sy huldigingswoord: “As die kennis van Penkop- en Drawwertjie-werk ’n ster was, was Nig Sterretjie die hele melkweg.”
Tibbie Visser was die dogter van die voormalige Vrystaatse president MT Steyn. Sy was die eggenote van die eerste hoofleier, NJ van der Merwe, wat na sy dood met CF Visser getroud is. In 1941 volg sy MM Jansen op as onderhoofleidster van Die Voortrekkers en dien tot 1964 in die amp. Sy dien ook as senator in die Suid-Afrikaanse parlement. Sy sal onthou word vir haar moederlikheid, sagtheid en intuïsie wat altyd respek en bewondering afgedwing het. Dit is seker die enigste vrou wat met twee hoofleiers getroud was. Darem nie gelyktydig nie!
Saam met Werner Louw het Edelweiss du Plessis Lunsklip begin en vir 25 jaar lank uitgebou tot ’n spogkamp waar duisende Voortrekkers se lewens aangeraak is. Tannie Edelweiss was ’n uitmuntende voorbeeld van toegewydheid en diensbaarheid. Voor die kamp het sy die honderde inskrywings hanteer en die naamlyste op ’n tikmasjien getik. Op die kamp was sy van vroeg tot laat in die kombuis. Tussendeur het sy getroos, bemoedig, vermaan waar nodig. Alhoewel sy soms streng was, was die vermaning altyd met liefde gedoen. In Spreuke 31:10 staan: “’n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.” Dit was tannie Edelweiss gewis.
(Inligting verkry uit Die Voortrekker hou KOERS!).

Kursuserkenning vir offisiere-kursusse gedoen
Vir elke toerustingskursus voltooi, naamlik die Intreekursus (oranje), Spanhantering (groen), Voortrekkerbestuur (blou) en Kulturele Leierskap (rooi), word ’n kursuskenteken ontvang wat op die erkenningsbaadjie aangewerk kan word. Slegs die hoogste kenteken word op die erkenningsbaadjie gewerk. Die vyfde fakkel-kenteken is vir kursusaanbieders in Die Voortrekkers en die kleur daarvan is silwer. Hierdie kenteken is die hoogste kursuskenteken wat aangewerk kan word.
Vir alle Verrykingskursusse is daar ’n kursuserkenningskenteken ontwerp. Hierdie kursuserkenning kan op ’n informele manier gedra word. ’n Kursusknopie of die geborduurde kursuslappie kan op enige item bv. bordesakkie, hoed of baadjie gedra word. Die Voriemôl het alreeds geborduurde kursus-simbole en kursusknopies vir die volgende kursusse: Avontuurfasilitering, Afrikanerlewe, Digitale Burgerskap, Handvaardigheid, Kreatiwiteit, Lewenskuns, Praktiese Spanhantering, Touwerk en Voortrekkerspyseniering. Hierdie pragtige, kleurvolle kursus-simbole is deur Nelmari Oosthuysen ontwerp. Baie dankie, Nelmari!