Kettieskiet – waar oud en jonk saam mik
Toe die Kultuurtuiste Die Voortrekkers vra om met die aanbieding van kettieskiet by die Erfenisfees te help, het ons geweet dié ou bekende vaardigheid gaan mense nader lok. Wat ons dalk nie verwag het nie, was hoeveel pret dit sou veroorsaak!

Meer as 15 deelnemers het amptelik aan die kompetisie deelgeneem, maar baie meer feesgangers het sommer vir die lekker kom probeer – veral met die groot kettie wat vinnig ’n trekpleister geword het.
By die gewone kettieskietbaan kon deelnemers kies tussen ’n tradisionele kettie en ’n moderne kettie. Vir sommige kinders was dit ’n nuwe ervaring, terwyl dit vir van die ouer besoekers sommer ’n hele klomp herinneringe teruggebring het.
Een van die lekkerste dele van die dag was juis die stories wat saam met die ketties gekom het. Van ons ouer Voortrekkers het by oom Henk kom kuier, die tradisionele ketties bekyk en vertel hoe hulle jare gelede met ketties en albasters geskiet het. Skielik was dit nie net ’n aktiwiteit nie – dit was ’n stukkie erfenis wat van een geslag na ’n volgende aangegee word.
En natuurlik het die kompetisiegees vinnig kop uitgesteek! Vriende het mekaar uitgedaag om te sien wie die beste telling kon aanteken, mekaar aangemoedig en sommer lekker gelag wanneer die kettie nie heeltemal wou skiet waar die oog gemik het nie.
“Dis moeiliker as wat dit lyk!” was ’n opmerking wat ons meer as een keer gehoor het. Maar gewoonlik is dit vinnig opgevolg met: “Dit is groot pret!”
Een van die hoogtepunte was ’n oupa wat eers gekyk het hoe sy seun en kleinseun skiet. Toe kon hy dit nie langer hou nie – Oupa moes self wys hoe dit gedoen word! Hy het drie van die vyf valplate platgeskiet en sommer bewys dat ’n mens sekere vaardighede nie so maklik vergeet nie.
Dit is dalk presies wat ’n erfenisfees behoort te doen: nie net vertel hoe dinge vroeër gedoen is nie, maar mense die kans gee om dit self te beleef.
Vir ’n rukkie het ouderdom nie saak gemaak nie. Kinders, ouers en grootouers het langs dieselfde baan gestaan, saam gemik, saam aangemoedig en saam gelag.
En miskien is dit hoe erfenis die beste bly leef – nie net in dit wat ons onthou nie, maar in dit wat ons vir mekaar aanleer en saam doen.