Internasionale Navorsingskongres te Melbourne, Australië – ʼn aantal vrae

Deur Karin Stoffberg

Onderwyskundiges oor die hele wêreld het die navorsingskongres verlede jaar in Melbourne bygewoon.

 

 

Die openingsvraag tydens die kongres was: “Hoe kan onderwysstelsels aangepas word sodat elke leerder sukses beleef?”. Dit is die uitdaging van hedendaagse skole en onderwysinstellings. Sommige kinders beleef nooit sukses nie. Navorsing het ook aangetoon dat ʼn kind se prestasie oor sy/haar skoolloopbaan oor die algemeen min of meer dieselfde bly. ʼn Kind wat byvoorbeeld in graad 4 ʼn gemiddeld van 50% behaal, se punte sal met toetrede tot die hoërskool en later in matriek effens daal. Daar is natuurlik uitsonderings. Dit is egter so dat toppresteerders deur hulle skoolloopbaan baie goed vaar. Met hierdie voorbeelde verwys ons na akademiese sukses. Waarom word dieselfde assessering vir almal gebruik? Moet daar nie verskillende assesserings wees, afhangend van prestasie nie? Daar is egter nie maklike oplossings vir hierdie uitdagings nie. Die kernvraag is: Wat moet verander sodat meer leerders sukses op skool beleef?

Die skoolgebaseerde stelsel wat ons vandag gebruik, behels ʼn onderwyser wat voor in die klas staan met leerders wat in rye sit. Hierdie model is op die Prussian-model gebaseer, wat deur Horace Mann in 1840 gedokumenteer is. Ons leef in ʼn snelveranderende wêreld, waar verandering aan die orde van die dag is. Die vraag is, is hierdie model die beste manier van onderrig?

Tydens die kongres was daar baie kritiek teen die graderingstelsel van simbole. Die vraag is: Waarom hou opvoeders aan die huidige ekstrinsieke gemotiveerde graderingsparadigma vas? Alles handel oor simbole, m.a.w. om ʼn A of A+ te behaal vir toelating tot tersiêre instellings en nie noodwendig om iets te leer nie. Eksamenafrigting is aan die orde van die dag.

Enige iets kan vandag op die Internet gesoek word. Die vraag is dus wat moet jongmense leer? Internasionaal is daar klagtes oor kurrikulums wat te vol is. Watter inhoud is belangrik? Hoërorde kognitiewe denke is belangrik waar jongmense geleer word om te dink, te analiseer, te reflekteer en te evalueer. Die belangrikste is egter om jongmense nuuskierig te maak waar hulle ʼn ingesteldheid tot lewenslange leer het.

ʼn Belangrike vraag tydens die kongres was: “Hoe kan jongmense vandag die beste voorberei word vir hul toekomstige lewens en loopbane in ʼn wêreld wat vinnig verander en onvoorspelbaar is?” Met watter waardes, kennis en vaardighede moet jongmense toegerus word sodat hulle gelukkig is, floreer en positiewe bydraes maak in ʼn wêreld met voortdurende globale uitdagings? Die vyf essensiële vaardighede volgens ACER (Australian Council for Educational Research) is: kommunikasie, kreatiewe denke, kritiese denke, samewerking en selfbestuur.

Laastens: Watter rol speel tegnologie in die hoe, wanneer en waar jongmense leer? Selfone, tablette, rekenaars en kunsmatige intelligensie is deel van ons lewe. Tegnologie sal nooit ʼn opvoeder vervang nie, maar kan as hulpmiddel gebruik word om beter onderrig te gee.

Ten slotte: Die Voortrekkers is ʼn ideale omgewing waar jongmense kan ontdek, dink, leer en floreer en boonop nog avontuur beleef. Christenskap en waardes is deel van die Voortrekkerloopbaan. Hoe meer digitaal die wêreld raak, hoe belangriker raak verhoudings en waardes. Die Voortrekkers werk met ʼn spanstelsel waar jongmense verhoudings met maats en hulle Voortrekkeroffisier bou. Dit is dus belangrik dat volwassenes in Die Voortrekkers rolmodelle vir jongmense is. Baie dankie aan elke volwassene wat hierdie belangrike rol vervul.