Die Turffontein Konsentrasiekampkerkhof
Dankie aan almal wat saam met ons die Konsentrasiekampdag by Die Turffontein Konsentrasiekampkerkhof herdenk het!

Oosvaal Voortrekkers sê van harte dankie aan elke persoon wat op 16 Junie 2026 die moeite gedoen het om die grafte van ons vroue en kinders te kom eer. Julle teenwoordigheid het die dag besonders gemaak en getoon dat ons voorouers se lyding en opoffering nie vergeet word nie.
‘n Spesiale woord van dank aan almal wat gehelp het met die skoonmaak en instandhouding van die terrein. Deur julle handearbeid bly hierdie heilige grond netjies en waardig – ‘n teken van respek vir diegene wat daar rus.
Ons is besonder dankbaar teenoor Johan Pansegrouw en Willie-Waldo Kühn vir die twee pragtige nuwe gedenkplate wat vandag onthul is. Die een eer die Potgieter-gesin en die ander Cornelis Broeksma. Hierdie plate sal as blywende herinnering dien aan die menslike verhale agter die statistiek van die Anglo-Boereoorlog se konsentrasiekampe. Baie dankie vir julle toewyding en navorsing!
Ons vergeet nie.
16 Junie bly vir ons Konsentrasiekampdag – ‘n dag waarop ons die duisende vroue en kinders herdenk wat in haglike omstandighede gely en gesterf het. Ons onthou ook die veerkragtigheid van die “yster-generasie” wat uit die as opgestaan en weer gebou het. Mag ons jeug vandag dieselfde geloof, deursettingsvermoë en liefde vir volk en vaderland uitleef.
Dankie aan elkeen wat betrokke was. Laat ons hierdie herinnering saam dra en aan die volgende geslag oorhandig.
#Konsentrasiekampdag #16Junie #Turffontein #VoortrekkersJeug #OnsVergeetNie #VoortrekkersOosvaal