Die Voortrekkers lê ʼn krans by Koevoet Herdenkingsdiens, 11 April
Dit was ʼn voorreg vir Die Voortrekkers om ʼn krans tydens die jaarlikse Koevoet Herdenkingsdiens te lê.

Hierdie diens laat niemand onaangeraak nie. Ons dink terug aan soldate wat die hoogste offer vir hulle land betaal het. Koevoet is in 1979 in die lewe geroep en is tydens die Suid-Afrikaanse Grensoorlog as ’n spesiale teeninsurgensie-eenheid van die Suidwes-Afrikaanse polisie (SWAPOL) ontplooi. Tot en met 1989, toe die oorlog beëindig is, het Koevoet ’n gedugte mag geword om mee rekening te hou.
Die helderkleurige krans het bestaan uit rooi-, wit- en blou blomme, die kleure van Die Voortrekkers. Rooi simboliseer vir ons Voortrekkers dapperheid en durf. Ons sal hierdie soldate onthou wat dapper en met durf vir ons land geveg het. Blou simboliseer ʼn heldere, hoopvolle toekoms. Ons as landburgers en Voortrekkers sal saam aan ʼn beter toekoms vir ons land bou. Die Voortrekkers het ʼn ingesteldheid tot diens en probeer om waar ons betrokke is, ʼn verskil in ons gemeenskap, in ons land en in jongmense se lewens te maak.

