Voortrekkers leer vaardighede aan op ‘n kamp
Barkly Wes: Altesaam dertien Voortrekkers het vanaf 21 tot 28 September ‘n kamp op die Bodemvas terrein en op Wildeklawer, ‘n spogplaas, by Barkly Wes bygewoon. Daar was nege jeuglede en vier volwasse offisiere op hierdie Noordkaap gebiedskamp, party van so ver soos Uitenhage af.
Name
Die offisiere was Dawid, Susan en Schalk v/d Berg (van Kathu) en Jaco Conradie (Uitenhage). Die jeuglede was: Pieter Fourie, Berrie van Niekerk en Hanro Kraucamp (Kathu); Sonica Barry, Anja Conradie en Hayden Greyling (Oos Kaap); Arno Robbertse en Nico van Heerden (Vryburg) en Janè Oosthuisen (Bothaville).
Drie deskundiges uit die gemeenskap het ook inligting oorgedra:
- Coen Visser, geoloog, het geologie en geohidrologie (waterstudie) verduidelik,
- Annemarie van Heerden, botanis van Mc Gregor Herbarium, het plantkunde behandel en
- Manie Pickard van Wildeklawer het ons op ‘n kort toer geneem om meer te leer oor die bestuur van vars water in landbou en om Wildeklawer se aktiwiteite te bekyk.
Vaardighede
Hierdie Graad 8 & 9 kamp was deel van ‘n groter gebiedskamp van omtrent 70 Voortrekkers. Ons het egter net een dag op die Bodemvas terrein deur gebring voor ons na Wildeklawer toe gestap het om vier dae daar te spandeer.
‘n Wye spektrum is gedek tydens drie spesialisasies:
- Die Varswater spesialisasie behels onder meer die bestuur en bewaring van vars water.
- Die Seremonies spesialisasie sluit in die uitvoering van seremonies en seremoniële drilwerk, soos gesien by drilvertonings en taptoe’s. Elke jeuglid word opgelei om as ‘n seremonie-leier te kan optree.
- Die Voetslaner spesialisasie sluit teoretiese kennis in asook ‘n fisiese staptog van 12 km, vier nagte oorslaap en weer 12 km terug stap. Die staptog begin 4 uur in die nag om die Kalahari son te ontwyk. Die nagte was egter baie oud weens ‘n skielike koue front. Die jongmense se sielkundige grense word verskuif, want van nature glo sulke jong kinders nie dat hulle so ver in die voordag kan stap nie. Dit is die enigste Voortrekker kamp waar jeuglede stap van donkernag tot daglig!
Hoogtepunte
Die hoogtepunt was die besoek aan die boerdery aktiwiteite op Wildeklawer, wat landwyd onder die jeug bekend is vanweë hulle borgskappe van skolesport. Die vier dae op hierdie plaas was ‘n fees. Die landerye en spilpunte skep ‘n rustige atmosfeer.
Die kampprogram was propvol aksie, adrenalien en uitdagings. Ons het ‘n kampterrein ingerig onder digte bosse, onder die sterre op die oewer van die Vaalrivier geslaap, kos in die veld gaar gemaak, saans om die vuur gekuier en deurnag wag gestaan.
Nog ‘n hoogtepunt was die praktiese bou van apparate, soos barometers, anemometers en windkouse, waarmee die klimaatsfaktore gemonitor kan word wat reën beïnvloed, want reën is die enigste aanvulling van vars water.
Adrenalien
Die Graad Elf Voortrekker groep het die hele week op ‘n vlot op die rivier geroei. Hulle het ons kamp besoek en die Graad Agts gedoop omdat dit hulle eerste verkenner (hoërskool) kamp is. ‘n Boeresport sessie in ‘n vlak poel modderwater het gou-gou in ‘n volskaalse modderbad ontaard. Hulle het darem kans gekry om agterna in die rivier te gaan af spoel. Terug in die hoofkamp was die span ook verantwoordelik vir die reëlings van die kampvuurkonsert. Die span se gees was puik en die beplanning en reëlings van die offisiere het glad verloop.
Veiligheid
Die Graad Agts en Neges wil dankie sê aan mnr Louis de Kock, eienaar van Wildeklawer, asook aan mnr Manie Pickard en mev Cora de Kock. Manie was ons gasheer en het baie moeite gedoen om seker te maak dat ons veilig en behoorlik ingerig is. Hy verdien lof vir sy opoffering, want hy het die spreekwoordelike ekstra myl gestap. Mev de Kock verdien ons dank vir haar reëlings met die borg van ‘n boshoed aan elke lid van ons span.
Wildeklawer se personeel het ons baie veilig versorg laat voel. Die kampterrein beskik oor ‘n veilige swemplek, maar lewensbaadjies is nogtans aan ons geleen. Fit-It Kathu het ook buitebande aan ons geskenk om mee te swem. Daar is ‘n veilige vuurmaakplek en ‘n stoor waarheen ons kon verskuif ingeval van donderweer. Dit was gelukkig nie nodig nie.
Die Voortrekkers is ‘n kultuur-organisasie waar kultuur en avontuur in die natuur geniet word. Die kamp is ‘n jaarlikse instelling. Belangstellendes kan die Voortrekkers kontak.
Navrae: Dawid v/d Berg – 084 701 0894