Winterkamp 2026
Winterkamp 2026 op Doornkloof in die Vrystaat was beslis ʼn ervaring wat die Verkenners nie gou sal vergeet nie. Op 26 Junie het 20 jong jagters, saam met 9 van hulle ouers, by die kamp aangekom, gereed vir ʼn week vol nuwe ervarings, uitdagings, nuwe vaardighede aanleer, vriendskappe en herinneringe bou!

Alhoewel Winterkamp ʼn jagkamp is, word hier eerstens meer oor verantwoordelikhede en respek vir die natuur geleer. Die regte grondslag vir etiese jag word gelê. Daarna is die Verkenners ook ingelig oor wapenveiligheid, die herkoms van vuurwapens, werking van wapens en ammunisie, herlaai van ammunisie, wildherkenning, skootplasing, die wapenwet, hoe om ʼn vuurwapen reg te versorg en in stand te hou, ensovoorts. Die kennis van jag en hantering van vuurwapens behels ‘n wye veld. Kursusgangers verwerf die Jag-en-Wildbeheerspesialisasie asook die Vuurwapenspesialisasie tydens die kamp.
Een van die hoogtepunte was vir seker die praktiese skietoefeninge. Die Verkenners het die geleentheid gehad om met ʼn wye verskeidenheid wapens prakties te skiet, wat insluit: 4.5 mm-windbuks, .22-geweer, 303-geweer, 12-boor haelgeweer, .22-pistool, 9 mm-pistool, .45-pistool, .38 sp-rewolwer en ʼn .357-rewolwer.
Die hoogtepunt van die kamp was sekerlik die “jagdag”. Agtien van die jong jagters het elkeen hul eie blesbok gejag. Daarna het hulle geleer hoe om hul eie bok self af te slag. Jagters het ook geleer hoe om op die regte
manier hul bokke se horings te meet en vanjaar was daar drie bokke wat aan die Roland Ward-vereistes voldoen het! Die volgende dag het ons vleis verwerk, en elke jagter is met ʼn sak biltongvleis, ʼn sak blokkiesvleis vir wors, en ʼn sak bene wat afgekook kan word, huis toe.
Al word Doornkloof se aande baie koud, was die kampvuur elke aand die plek waar almal saamgekuier het, gelag het en jagstories gedeel het. Die oomblikke van gesels en kameraadskap was net so spesiaal soos die aktiwiteite deur die loop van die dag.
Op die laaste oggend het ons die kamp met ʼn skietkompetisie afgesluit, sodat die manne, dames en ouers voordat die kamp verdaag het, kon wys wie nou eintlik kan skiet.
Winterkamp 2026 was baie meer as net ʼn jagkamp. Dit was ʼn kamp waar nuwe vaardighede aangeleer is, selfvertroue opgebou is, verantwoordelikhede aangeleer is en nuwe vriende gemaak is. Dankie aan elkeen wat op een of ander manier by hierdie spesiale kamp betrokke was.