Resultate van PISA 2025
Die PISA-resultate (Programme for International Student Assessment) van 2025 het vroeg in September 2026 in my e-pos beland. PISA-evaluering is in die laat 1990’s deur OECD (Organisation for Economic Cooperation and Development) begin om wetenskaplike navorsing oor onderwysbeleide te kan doen. Honderde duisende 15-jariges van meer as 90 lande lê elke drie jaar die PISA-toets af.

Die PISA-resultate is van die betroubaarste aanduiders van gehalte en doeltreffende skoolstelsels. Die resultate is vir lande wat deelneem baie belangrik, aangesien dit ʼn aanduiding is van langtermynsukses. Die idee agter hierdie toetsing is nie om net te vergelyk nie, maar om te bepaal wat ander lande wat goeie resultate het, reg doen.
Suid-Afrika het nie deelgeneem aan die 2025-evaluering nie.
Bevindinge van die 2025 PISA-resultate sluit die volgende in:
- ʼn Gemiddeld van 20% van 15-jarige leerlinge in OECD-lande bereik nie die vlak waarop hulle moet wees nie, dit is 4% swakker as in 2022.
- In Natuurwetenskap sukkel leerders om eenvoudige data te interpreteer.
- Leerlinge vind dit moeilik om eenvoudige teks te verstaan. Tussen 2018 en 2025 het leesvaardigheid in driekwart van die onderwysstelsels gedaal.
- Leerlinge wat deur leesstukke vinnig lees (“haastige lesers”) en foutiewe antwoorde gee, het tussen 2018 en 2025 amper verdubbel.
- In ʼn wêreld met oormaat inligting sukkel jongmense om met begrip te lees, teks te analiseer en gevolgtrekkings te maak.
- Goeie leesvaardigheid is ʼn voorvereiste vir leer.
- Leerlinge beskik nie oor basiese vaardigheid in Wiskunde nie.
- Die wêreld is nie meer verdeel in ryk lande met uitstekende skole en arm lande met swak skole nie. Van die merkwaardigste opvoedkundige vooruitgang vind tans plaas in gebiede met aansienlik minder hulpbronne.
- Studente wat KI-kletsbotte (Kunsmatige Intelligensie) vir spesifieke take soos die opsomming van teks gebruik, behaal gemiddeld laer punte in Natuurwetenskap as diegene wat dit nie doen nie.
- Tegnologie moet gebruik word om leer te versterk. KI kan ʼn ondersteuningsraamwerk en hulpmiddel wees, nie ʼn plaasvervanger nie.
- Elektroniese toestelle is nie die probleem nie, maar wat daarmee gedoen word, is belangrik. Tegnologie kan ʼn kragtige hulpmiddel wees
- Leer vind nie plaas deur bloot deur die inhoud te lees nie, maar deur die teks te verstaan, te interpreteer, te analiseer en soms kognitief met die teks te stoei.
Waar laat dit ons?
- Jongmense moet die vermoë ontwikkel om te interpreteer en te analiseer. Gee vir jongmense geleentheid om dié vaardighede in te oefen. Vra vrae, laat hulle redeneer en reflekteer.
- In ʼn digitale wêreld is sosiale verhoudings en menslikheid baie belangrik. Jongmense moet vaardighede ontwikkel om met empatie en respek teenoor ander op te tree.
- Skep geleenthede waar jongmense nuut moet dink. Gee probleme waar hulle met kreatiewe oplossings vorendag moet kom.
- Om eties op te tree was nog altyd baie belangrik.
Die bevindings in die PISA-verslag bevestig Die Voortrekkers se rol in opvoeding. Die Voortrekkers wil jongmense toerus met vaardighede, Christelike waardes en kennis om in ʼn snelveranderende wêreld te floreer en ʼn verskil in die land en in die wêreld te maak – nie die wêreld waarin ons grootgeword het nie, maar in die wêreld van vandag en die toekoms. Die Voortrekkers is dus ʼn toekomsgerigte, moderne jeugorganisasie wat toegespits is om jongmense se karakter te vorm.
Karin Stoffberg