Eenmaal Venterskroon, altyd Venterskroon…
deur Marleen Breytenbach
So met die uiterste koue weervoorspellings vir die naweek was daar darem saam met ons dikste baadjies ook hope entoesiasme ingepak, deur groot en klein, oud en jonk… Dit is wat Venterskroon Gebiedskamp so spesiaal maak. Die entoesiasme waarmee alles aangepak word, deur almal betrokke. Van die aankope vir die kamp (van veral die bruin uie soppoeier – wel in oormaat – maar met oorgawe) tot die opslaan van tente in die al slegter-wordende weer Vrydagmiddag.
Die kamp het afgeskop Vrydagaand met die formele openingseremonie in die groot saal. Tydens die seremonie het Willie Wagner, Gebiedsleier van Leeuwenveld, twee vlae aan ons Kampleier, Louis Keyser, oorhandig, die Gebiedsvlag van Leeuwenveld en die Christenvlag. Die kursusleiers is toe ook op ‘n meer informele wyse aan die kampgangers bekendgestel. Saterdagoggend se vlaghysingseremonie was terselfdertyd ook ‘n huldigingseremonie waartydens ons hulde gebring het aan Margaretha van der Merwe wat in Januarie 2024 oorlede is, na ‘n kort siekbed. Sy het in 2022 en 2023 die Volwasse Sake op die kamp hanteer. Ons het ook hulde gebring aan Ds Johan van der Walt, voormalige Hoofleier van die Voortrekkers, wat in Junie 2024 oorlede is.
Alhoewel die naweek gekenmerk was deur baie koue weer, met ‘n sterk wind wat deur murg en been gesny het, het ons, tipies Vories, onsself nie daardeur laat onderkry nie. Die kursusgroepe wat normaalweg onder afdakke bymekaarkom het elke beskikbare beskutte plekkie ingeneem en met oorgawe die kursusse van daar af aangebied. Tot die geskiedkundige kerkie op die terrein is as kursuslokaal ingespan. Elke kursusprogram wat op die kamp aangebied word, was interessant, verrykend, leersaam en tog ook vol pret, soos gewoonlik.
Die Kommunikasie joernaliste het op daaglikse basis almal op hoogte gehou van wat op die kamp en in elke kursus gebeur – hetsy in die plaaslike koerantjie, “Die Ventertjies”, of deur beriggewing van die omroepers oor Radio Oerknal se luidsprekers, tydens middagete. Moet ook net noem, die kampgangers is ook aan die raai gehou deur watter berigte eg is en watter so ietwat tong in die kies is, asook wat die term “4 Bars” beteken het.
Die Halfkroontjies het tannie Tanya goed besig gehou, of het sy hulle besig gehou… dit is die vraag? Junior Kok is sommer alreeds genomineer as die Kombuisspan vir Venterskroonkamp 2039, Velddiere (Veldkook en Dierewaarneming) het goggas gevang en veldkos gemaak, darem nie met die goggas nie! Spoorkennis het die spore waarvan hulle geleer het gaan soek in die veld, toe dit darem bietjie warmer was. Toeka het ons weer bederf met heerlike sosaties, gemmerbier en roosterkoek… ALMAL wou ook leer hoe om ‘n sweep te maak. Vasbyt het omtrent vasgebyt, dit het al die pryse wat tussen hulle uitgedeel is, bewys. Gasheer en gasvrou het nie teleurgestel met hulle heerlike tent(tuis)gemaakte eetgoed nie en het ‘n baie spesiale 4de verjaarsdagpartytjie vir Frikkie gehou (alweer…)! Plantekennis het geleer van plante in die veld en ook elkeen ‘n plantjie geplant wat hulle huistoe kon neem terwyl Touwerk ‘n toubrug gebou het waaroor hulle maar moes kom. Boeresport het nie net van die boerespeletjies geleer nie, maar dit ook gespéél. Weerkennis kon ons vertel presies hoe koud dit is, net vir ingeval ons dit nie self kon voel nie en Spoorsny het hulleself weereens so goed gekamoefleer, niemand kon hulle kry nie… Sterrekunde het nogal gesukkel om sterre te sien, maar gelukkig kan mens ook na prentjies van die sterre kyk.
Avontuur is omtrent aan die uiterstes blootgestel maar in ware Vorie karakter het hulle nooit ophou sing nie, kom weer en wind, hulle weet op watter Rots hulle huisies staan!
Die offisiere se gebruiklike busry het ook hierdie jaar hoër hoogtes bereik met ‘n nuwe roete, waartydens die busbestuurder sowaar die 4-wiel aangedrewe modus moes aktiveer. Die langer roete het ook gesorg dat die offisiere elke oggend met blosende wange en half uitasem by ontbyt opgedaag het.
Die kameraderie tussen die offisiere was weereens iets om te beleef. Die oorgang uit jou gemaksone in die Venterskroon familie in raak elke jaar net makliker en makliker. Die Venterskroon-lied sing nie verniet van “Ons smee ‘n vriendskapsband” nie. Daar word bande gevorm wat elke jaar net sterker en sterker word, met een gemeenskaplike fokus – ons Vorie kinders, ons Land, ons Erfenis.
Lank nadat die laaste tentpen uitgetrek is en die stof van die kar afgewas is bly daardie warm gevoel nog in mens se hart, jou batterye is weer volgemaak tot volgende jaar wanneer ons weer kan teruggaan na Venterskroon, ons Venterskroon…