Inlywing by die Nasionale Vroumonument

Adjunkhoofleier Shaun Peens het op 31 Mei 132 Voortrekkers ingelyf by Bloemfontein se jaarlikse inlywing en kerkdiens by die Nasionale Vrouemonument behartig.

 

 

Op 30 September 1931 met die stigting van Die Voortrekkers is die eerste Voortrekkers voor die Ou Raadsaal in Bloemfontein deur genl. J.B.M Hertzog ingelyf. Reeds van die begin van die stigting van Die Voortrekkers is nuwe lede ingelyf. Elke nuwe lid, jeuglede (Penkoppe en Drawwertjies, Verkenners) en volwassenes (Offisiere, Jeugvriende, Staatmakers en Heemraadslede) word tydens ʼn spesiale geleentheid as Voortrekker ingelyf.

Elke lidmaatskaptipe lê ʼn verskillende belofte af.

Daar is ʼn paar geleenthede waar ‘n mens beloftes aflê, byvoorbeeld met belydenisaflegging, doop, of ʼn troubelofte. ʼn Belofte behoort nooit ligtelik opgeneem te word nie. Dit is ʼn onderneming waar jy ooreengekom het om iets te doen. In Die Voortrekkers belowe jy dat jy sal poog om elke dag getrou te bly aan die ideale waarvoor Die Voortrekkers staan, om ingestel te wees om jou medemens en land te dien, maar bo alles om die Here lief te hê. Wat ʼn wonderlike onderneming om te maak! Baie geluk aan ʼn groot aantal Voortrekkers wat onlangs ingelyf is.