Voortrekkers trap nuwe spore

Die Voortrekkers het vandag gesê dat hulle die volgende twee maande regoor Suid-Afrika en Namibië hulle 85ste bestaansjaar vier. Die tema vir die feesjaar is Trap nuwe Spore.

Dr. Danie Langner, Hoofleier van Die Voortrekkers vertel dat jeuglede die geleentheid kry om tydens die feesjaar hul eie geskiedenis te skryf. “Voortrekkerspore van ouds word nie net bevestig nie, maar nuwe spore word getrap. Daar word nuwe monumente gebou en terselfdertyd word uitgereik na die gemeenskappe om ons. Op dié wyse leer ons jeuglede nie net geskiedenis nie, maar skryf hulle ook geskiedenis.”

Eerskomende naweek skop die Voortrekkers se 85-jaar feeste af met die grootste trek oor die Drakensberge sedert die Groot Trek 179 jaar gelede. Volgens Langner het “Pieter Retief op 5 Oktober 1837 daar afgetrek met vier waens op pad na Koning Dingaan. Sy trek het hom op 14 November gevolg nadat hulle die nuus ontvang het dat Dingaan grond belowe het. Hulle het 8 uur die oggend met 23 waens afgetrek waarvan 18 teen sonsondergang op dieselfde grasvlakte uitgespan het.” Die naweek volg 400 moderne Voortrekkers Retief se spore bergaf. Hulle kom van regoor die land om saam te stap – Kaapstad, Komatipoort, Johannesburg, George, Despatch, Wellington, Bloemfontein, Pretoria. Twee monumente word gebou – een aan die bopunt naby die Kaalvoetvrou en een by ATKV Drakensville. ’n Boomlaning word ook in die oord aangeplant. Vier Hippo-rollers word bergaf getrek waarna dit aan die plaaslike gemeenskap oorhandig sal word.

Verskeie landswye feeste word by verskeie monumente en erfenisterreine gehou. Jak de Priester is by van die feeste te sien waar hy die “Sporelied” sal sing wat hy spesiaal vir vanjaar se feesvieringe geskryf het. Die Voortrekkers Kook-resepteboek word ook by elke fees bekend gestel. Die unieke resepteboek bevat al die lekkerste resepte van spankampe, veldkampe en gebiedskampe. ’n Dokumentêr, getiteld Voortrekkerspore, wat handel oor vandag se Voortrekkers se doen en late vertoon Sondae, 18 & 25 September om 14h30 op kykNET.  Volgens Langner het Die Voortrekkers se ledetal sedert 2014 met 14% groei en hoop hulle om tydens die landswye feeste ongeveer ’n 1000 nuwe Voortrekkers as lede in te lyf.  ’n Voortrekkerkind-beeld word op Erfenisdag, 24 September, by die Voortrekkermonument onthul. Dit is ontwerp en gebou deur ’n Namibiese beeldhouer, Duif Keyser.

Langner beskryf Die Voortrekkers as “’n gesellige familiehuis. Die Voortrekkers is ’n behoort plek waar oupa en ouma, pa en ma saam met hulle kinders in ’n gebalanseerde kultuuromgewing saam kuier, saam dien en saam kultuur met avontuur in die natuur geniet.” Deur vaardigheidsontwikkeling, waardegedrewe antwoorde en praktiese toepassing vat Die Voortrekkers die toekoms met selfvertroue.

Die plaaslike gemeenskap word uitgenooi om saam met Die Voortrekkers nuwe spore te kom trap deur die fees in hulle omgewing by te woon. Meer inligting is beskikbaar op die Voortrekkers se webtuiste www.voortrekkers.co.za of op sosiale media.

 

Datum Plek
6-8 Augustus Kerkenberg (Natal)
13 Augustus 2016 Kimberley (Noord-Kaap)
21 Augustus 2016 George (Suid-Kaap)
26 Augustus 2016 Swakopmund (Namibië)
27 Augustus 2016 Taalmonument (Paarl)
3 September 2016 Vrouemonument (Bloemfontein)
3 September 2016 Vegkop (Heilbron)
10 September 2016 Geloftekerk (Pietermaritzburg)
24 September 2016 Voortrekkermonument (Pretoria)
14 Oktober 2016 Port Elizabeth (Oos-Kaap)

 

Mediakommunikasie: Feesjaar

Johan Jansen van Vuuren

Sel:    083 265 5533

Tel:    012 301 1777

E-pos: voortrekkersmedia@gmail.com