Die Voortrekkers Kook

Op spankampe is potte skuur en skottelgoed was net nie ’n groot prioriteit nie. Om dié rede probeer spanne so min as moontlik potte en panne vuilmaak. ’n Blikbeker word in Die Voortrekkers lankal nie meer net vir koffie gebruik nie. Dit is sommer ook ’n pot, kastrol en bord. Hierdie is ’n lekker kreatiewe ontbyt met verskillende variasies.

Blikbekerontbyt

In die kostrommel

’n blikbeker

botter of margarien

stywe pap

gaar gegeurde maalvleis of spek

tamatie-en-uiesmoor

gebraaide sampioene (opsioneel)

’n eier

sout en peper

foelie

Op die kole

Smeer die blikbeker deeglik met botter of margarien.

Skep ’n laag (4–5 cm) pap in die blikbeker en druk dit stewig teen die kante en bodem vas.

Skep ’n lagie vleis of spek, tamatie-en-uiesmoor en sampioene bo-op.

Breek die eier bo-op en geur met sout en peper.

Bedek die blikbeker met ’n deksel van foelie.

Maak ’n holte in die kole en plaas die blikbeker daarin. Plaas ’n kool of twee bo-op die foeliedeksel.

Haal af wanneer die eier gestol is.

Terwyl jy eet, plaas solank ’n ketel met koffiewater op die kole. As jy klaar geëet is, spoel jou blikbeker uit vir ’n warm koppie boeretroos.

 

Die Voortrekkers Kook is beskikbaar by http://www.voriemol.co.za/ @ R180.00.