‘n Skip met ‘n Groot Droom
“Daar’s ’n groot seilskip, wil jy saam kom vaar… Daar’s ’n plekkie in die son vir jou en my. Is almal aan boord – hierdie skip DROOM GROOT!” … En dié skip, onder leiding van Kaptein Tekkies, het die jaar besluit om GROOT te droom.
Die skip het egter nie net groot gedroom nie, maar ook uitgegaan om drome waar te maak. Met 5 nuwe divisieleiers en 2 splinternuwe kursusse, Waterbewustheid en Riviermondings (spesiaal vir Swartvlei geskryf), het die kamp gespog met groot gees en entoesiasme.
Elke outjie is ook gevra om sy eie groot droom vas te lê op papier, waarna dit omskep is deur die Skatkis in ’n vormpie, wat elkeen kan herinner aan sy droom, en om dit uit te vat na buite waar hulle drome ook waar gemaak kan word.
Die grootste gesinskamp in Die Voortrekkers, het vir elke persoon ’n avontuur ingehou. Vir die klein Voortrekker-lyfies van voorskool tot graad 3 is daar op die strand in Mosselbaai roomys geëet terwyl die walvisse vir hulle ’n uitvoering in die see hou.
Die graad 4-bemanning kon die ligtoring en die hawe besoek en selfs uitgaan op ’n bootrit in en om die hawe. Elke kind is ook die geleentheid gegee om die boot te bestuur.
Die graad 5-Swartvleiers is na die Vervoermuseum geneem en kon meer leer van waar ons publieke vervoermiddele sy oorsprong gehad het.
Maar as jy graad 6 en 7 benader, raak die uitstappies meer opwindend met uitslaap by die rivier, op die strand, in die woud of selfs by Seejol, waar die Verkenners hulle bevind.
En so maak dit nie saak wie jy vra oor die kamp nie. Elke persoon sal vir jou ’n ander staaltjie kan vertel van sy avontuur, sy persoonlike eerstes en sy gunsteling oomblikke. Nie een storie sal dieselfde wees nie; elkeen uniek en spesiaal.
Selfs die walvis wat weens die natuur se gehardheid op die strand uitgespoel het, het gesorg vir ’n nuwe ervaring wat niemand gou sal vergeet nie.
As deel van die jaarlikse gemeenskapsprojek het elke kind ’n item toiletware saamgebring wat hulle aan Freshstart geskenk het. Freshstart is ’n nie-winsgewende organisasie in Sedgefield wat daarop gemik is om kinders in die omgewing te bemagtig om bo hulle armoede en omstandighede uit te styg. Die kamp het ook op ander gebiede in die omgewing gehelp soos byvoorbeeld die vars produkte wat die kamp aan Sedgemeer Park, ’n organisasie vir ouer mensies, geskenk het.
Van ons heel klein seekatjies wat ons junior geestrofee gewen het, tot by elke volwassene, onder leiding van die Pikkewyne, kon elke ou sy potensiaal uitleef.
Met harte vol lewenslus en lywe moeg van opwinding, kon elkeen van die skip afklim en die pad aandurf terug na hulle onderskeie huise. Die drome wat waar geword het op die kamp, is net beter motivering om verder te droom en elke dag na te streef in die uitdagings wat op ons wag. Hou Koers en Droom Groot!
deur Christelle Pienaar en Linda Holtzhausen