Ons het murg in ons pype!
deur Annemie Bosman
Kamp Murgpyp was soos altyd weereens ’n groot sukses! Ons kinders het die kamp ten volle geniet en nuwe vriendskappe gebou. Hulle het kettie geskiet, kleilat en jukskei gespeel, handwerk gedoen, asook monumente gebou, seremonies geoefen, en BAIE pret gehad.
Die hoogtepunt is altyd ‘Operasie Murgpyp’ waar die kinders leer om onder druk in spanverband saam te werk en om ook in hul eie uithouvermoë te glo. Baie van die punte tydens ‘Operasie Murgpyp’ was nie altyd maklik nie en hulle moes oor moeilike terrein beweeg. Kommunikasie is belangrik en die drie belangrikste reëls op ons kamp is: Hoed, waterbottel en tekkies!
Soos wat ons kamplied sê: “Ek wens ek het murg in my pype…” sal niks op hierdie kamp ons onderkry nie, ons sal aanhou sukkel en ’n leier word op hierdie kamp.