Oord Oos-Kaap Avontuurkamp
Waar die wielie die grondpad tref, begin die kampgees vlam vat in 26 Verkenners. Oord Oos-Kaap se 1ste avontuurkamp skop af op 25 Junie te Ranger’s Outdoors met luidrugtige jongmense wat lus is vir die lewe en nie kan wag om tyd met ou vriende te spandeer en God in die natuur te ontmoet nie.
Met spesiale onderskeidings soos Jag en Wildbeheer en Vuurwapens was die program belaai met opwindende aktiwiteite en aanbieders wat spesialiseer op dié gebiede. Ja, vir ons as offisiere was dit ook ’n vreemde gesig om 26 tieners te sien stilsit en aandagtig na lesings te luister. Dit wys net met die regte mense aan die stuur is die onmoontlike moontlik.
Met groot opwinding is ’n groep van die span Dinsdagoggend op ’n jag uit, maar ongelukkig met min sukses. Ons moes geduldig wag tot Donderdagmiddag toe neef Renaldo ’n mooi rooibok plattrek. Die afslagproses was nie vir sissies nie en met bloedbesmeerde gesigte en een brawe Verkenner wat kans gesien het om die longe op te blaas, was daar maar ’n paar wat se mae in hulle keel gesit het.
Woensdagoggend op die skietbaan het die adrenalien maar redelik hoog geloop. Hier het ons Staatmakers ook sommer gewys wat in hulle pype steek en saam met die Verkenners met ’n 303, ’n 223, ’n haelgeweer en ’n rewolwer geskiet. Die hoogtepunt was definitief toe die aanbieders vir ons 3 skote afgevuur het met ’n 50 kaliber “sniper”geweer. Maar na so dag op die skietbaan in die son en stof, was die pad terug kamp toe maar redelik stil.
Die Graad 11 Gemsbokke van Despatch kommando het Donderdagaand gewys dat die jongmanne van vandag nog weet hoe om vuur te maak en ’n vleisie op die kole te braai. Julle mag maar manne, dit was uit die boonste rakke.
Met Staatmakers wat die voorbeeld stel van nie ’n banghaar op hulle kop nie en in die koue damwater spring, tot ons eie “spiderman”, was die kamp belaai met avonture.
Vrydag was daar geen haas dat hierdie kamp moes eindig nie, en het van oud tot jonk kans gekry om boog te skiet en natuurlik te knibbel aan lekker wildsbiltong. Die talent in ons Oord is groot met verskeie van ons Verkenners wat uithaler boogskieters is.
Die kos was definitief een vir die rekord boeke. Van wildspastei, frikkadelle, sosaties, potjiekos, roosterbrood en natuurlik die kersie op die koek, melktert.
Op hierdie kamp is ou vriendskapsbande versterk en nuwes gevorm tussen Verkenners van verskillend kommando’s van graad 8 tot 11. Ouderdom het nie hier saak gemaak, want ons gedeelde liefde vir ons taal, land en medemens het ons as ’n eenheid gebind.
Hierdie is definitief die eerste van ’n nuwe tradisie in Oord Oos-Kaap wat net nuwe hoogtes gaan bereik. Dankie Nig Sonja Barry – jy mag maar ’n kamp reël, ons is almal volgende jaar weer daar met jou aan die stuur.
deur Adri Steyn