Oostelike PD-kamp

’n Hele paar kinders van Noordpos kommando, het die Oostelike PD-kamp bygewoon. Hulle het onder andere Anglo-Boereoorlog (Gr 4), Kampeerder (Gr 5), Ruiterkuns (Gr 6) en Sterrekunde (Gr 6 en 7) spesialisasies gedoen.

Gideon Stander wat die Anglo-Boereoorlog spesialisasie gedoen het, het dit baie geniet om te leer wat tydens die oorlog gebeur het. Hulle het op ’n uitstappie gegaan na die Donkerhoek slagveld asook die Krugerhuis in die middestad gaan besoek. Verder het hulle ook kettie geskiet en kleilat gegooi.

Die vier kinders wat die Kampeerder gedoen het, was so bly dat daar nie elke dag gestort is nie, hulle het amper elke aand varkie-aand gehad. Hulle het kamp opgeslaan ’n ent van die groot kampterrein af, waar hulle self tente opgeslaan het, vuur gemaak en hul eie veldyskaste gebou het, waarin hulle jellie laat stol het. Daar was gereeld kompetisie tussen die Kampeerders en Ruiterkuns, aangesien hulle mekaar se kampe gaan omkeer het (so het hulle geglo).

Die meeste kinders het die Ruiterkuns spesialisasie verwerf. Elke dag was daar natuurlik ’n paar wat afgeval het maar elke dag het hulle ook beter gery sodat hulle teen die tweede-laaste dag twee volwaardige seremonies kon uitvoer met die perde. Daar was natuurlik ’n paar kinders wat reeds goed kon ry, en ’n paar wat baie bang was. Ongeag hiervan, het almal gery en kan met groot trots sê dat hulle die kenteken mag ontvang. Daar was ’n hele klompie offisiere wat by Ruiterkuns gehelp het, en die offisiere het goed oefening ingekry met hardloop saam met die perde of agter hulle aan. Hulle het darem ook aan die einde van elke dag ’n beurt gekry om bietjie te ry. Dit was ’n eer om op eg, historiese boerperde te kon ry.

Ons het ook ’n paar kinders by Sterrekunde gehad. Hulle het natuurlik bedags lekker rondgelê en bietjie teorie geleer, maar in die donker hul sterretjies geleer. Pragtige, wolklose aande het bygedra vir goeie opleiding.

deur Jana Stander