Senior Hanekam kamp
Oos-Kaap se Graad 4- tot Graad 7-Voortrekkers het hul vakansie afgeskop met die Senior Hanekam kamp, ’n naweek van avontuur, speel en leer. By die kamp doen Graad 4 Groot Trek, Graad 5 Delwerye, Graad 6 ABO en Graad 7 Afrikanerkind.
Graad 6- en 7-seuns moes die koue trotseer in hul tentjies, terwyl al die ander maats lekker warm in hul beddens in slaaplokale kon slaap. Ons het die middag, nadat elkeen ’n slaapplekkie gekry het en tente opgeslaan het, begin stap deur die geskiedenis. Vrydagaand voor slaaptyd het die Staatmakers vir ons tradisionele speletjies aangebied. Van blik aspaai tot lantern bekruip het hulle gesorg dat almal sommer baie moeg was en vinnig hul beddens opgesoek het.
Die res van die naweek het die groepe speel-speel geleer uit die geskiedenis. Ossewaens, delwershuisies en monumente uit klei maak, was maar ’n deeltjie van die pret.
Saterdagaand het ons kampvuurkonsert gehou en elke groep moes met hul item vir die ander wys wat hulle sover geleer het.
Sondagmiddag is almal moeg na al die speel en avontuur, maar ook met baie nuwe kennis en ervarings terug huis toe.
Baie dankie vir almal wat die koue trotseer het om nog ’n opwindende Hanekam-kamp te kon geniet.
deur Ilse Ferreira