Wes-Kaap Leierskamp – ‘n Ontdekkingsreis…

deur Zibeth Jansen

Om ’n tiener te wees is opwindend, maar soms ietwat van ’n uitdaging. Dis ’n tyd om jouself te ontdek, om met identiteite te eksperimenteer en uit te vind wie en wat jy buite jou gesinsomgewing is en wat jou drome en ideale is en waarheen jy op pad is. Moderne tieners het vele uitdagings wanneer dit by hierdie ontdekkingsreis kom – verwagtinge van familie, vriende, sosiale media, beïnvloeders  – almal met ’n idee en ’n boodskap van wat en wie hulle dink jy JY behoort te wees. Soms eksperimenteer tieners met ’n verkeerde identiteit en word dan gebrandmerk deur ander in hul portuurgroep, onderwysers en selfs ouers.

Die Wes-Kaap Leierskamp gee die geleentheid aan tieners om hulself te ontdek en beter te verstaan. Om te leer wat dit beteken om ʼn leier van groepe te wees, maar meer belangrik, wat dit beteken om persoonlike leiding te neem oor hul eie lewe. Dis ʼn ontdekkingstog van persoonlikheid, konflik hantering en leierskapstyl. Hulle leer nie net om hulself beter te verstaan nie, maar ook om ander om hulle beter te verstaan en hoe om die beste in hulself en ander uit te bring.

Die offisiere is met die hand uit gekies en is almal passievol oor tieners en jeug ontwikkeling. Hulle luister na die seerkry en die wonde en help die leiers van more om genesing te vind. Tieners groei ongelooflik baie gedurende hierdie week en ouers is soms verbaas oor hoe volwasse tieners terugkeer na kampe.

Wat sê die Leiers?

“Dit was so lekker! Dit was leersaam en ek het dit baie geniet”

“Ek is baie bly ek het gekom en die kamp het my baie geleer. Ek is dankbaar vir almal wat dit vir ons moontlik gemaak het”

“Dit was ʼn wonderlike kamp! Ek het so baie van myself geleer.”

“Die nigs en neefs was baie ondersteunend”

Dit wat die kamp by die jong leiers wil tuisbring word seker die heel beste opgesom deur die kamp-slagspreuk deur Imke (2023 Leierskamp Verkenner)

“JY IS JY EN DIS OUKEI”