Winterkamp op Doornkloof
Die negende Winterkamp het plaasgevind van 22 Junie tot 27 Junie op Doornkloof in die Vrystaat.
Vanjaar was daar weer gekamp op 2 terreine waar daar twee kursusse op elke terrein aangebied is. Op die Vlagsaal-terrein is die Fotografie- en Joernalistiekkursus en die Ruiterkunskursus aangebied. By die fotografie- en Joernalistiekkursus het die Verkenners geleer hoe hul kameras werk en wat die elemente is van ’n goeie foto. Hulle het ook geleer hoe om mediaberigte te skryf en hoe om ’n koerant saam te stel. Aan die einde van die kamp is die gebruiklike “Winterwoorde”-koerant gedruk en uitgedeel aan al die Winterkampers. Die Verkenners het beide die Fotografie en Joernalistiek SO’s verwerf tydens die kamp.
By die Ruitekunskursus het die kursusgangers alles geleer van perde en perdry. Al die aspekte van die versorging en voer van perde is behandel asook al die toerusting wat nodig is vir perdry. Daar is ook baie tyd prakties op die rûe van perde spandeer. Die Verkenners by die kursus het die Ruiterkuns SO verwerf, maar hulle het ook die vereistes vir die Noodhulp bemeester en ook dié SO verwerf.
Op Suiderkruis-terrein is die Jag- en Boogskietkursusse aangebied. By die Boogskietkursus het die Verkenner alles geleer oor boogskiet en boogjag. Daar is gekyk na al die verskillende tipes boë, hoe dit werk en watter ander toerusting benodig word. Daar is baie prakties geskiet met verskillende boë op papierteikens, sowel as 3D-teikens. Die Verkenners het twee SO’s, naamlik die Boogskiet en die Gevorderde boogskiet verwerf.
By die jagkursus het die Verkenners alles geleer oor die herkoms, werking en veiligheid van vuurwapens. Hulle het geleer van die wetlike aspekte rondom vuurwapens en van verskillende wildspesies en sommer nog baie meer. Daar is nie minder as 14 blesbokke gejag nie, en toe is al die bokke afgeslag en die vleis bewerk. Hierdie kinders het die Jag- en Wildbeheer, asook die Vuurwapens spesialisasies verwerf.
Ongelukkig is daar net beperkte plek op die kamp as gevolg van die unieke aard van die kamp. As jy belangstel om volgende jaar deel te wees van Winterkamp, maak seker dat jy inskryf sodra die inskrywings en inligting beskikbaar is.
deur Jan van der Walt