90 cm boerierolle vir 90 jaar
deur Mariska Combrink
Op Woensdag 16 Junie het Helderkruin en Weltevrede Voortrekkers kragte saamgespan en ’n pret partytjiedag gehou om die Voortrekkers se 90ste bestaansjaar te vier. Daar was koeldrank, springmielies en koffie te koop, aangebied deur spanne van beide kommando’s, asook karnavalspeletjies en ’n springkasteel. Die lekker musiek en piekniekarea het bygedra tot ’n gesellige atmosfeer, maar die ster van die dag was die boerierolle!
90 cm stukke wors is van vroegdag oor vuurwarm kole gebraai. Die lang broodrolle is gesmeer en berge uie is gebraai. Hierdie 90 cm stukke wors is oor drie 30 cm broodjies gepak en gelaai met lekker sous en gebraaie uie. ’n Hele familie kon saam eet aan hierdie monster-grootte boerierolle. Die dag was ’n groot sukses! Die doelwit was om 90 x 90 cm-boerierolle te verkoop teen R90 en ons het ons verwagtinge oortref en 120 boerierolle verkoop! Elke boerierol is teen R100 verkoop en die geld is aan die Voortrekkermonument geskenk.
Baie dankie aan die offisiere van Weltevrede Voortrekkers en die ouers en offisiere van Helderkruin Voortrekkers vir julle saamwerk en saamspeel op hierdie feesdag. Sonder julle hulp sou dit nie moontlik wees nie. En dankie aan almal wat ons ondersteun het en saam gesmul het aan die smaaklike boerierolle.