Avontuurkamp 2023 – Doornkloof Voortrekkerplaas

deur Karin Stoffberg

Oktober-maand is voorwaar die mooiste maand! Nie net omdat die veld weer lewendig word na die koue Oos-Vrystaatse winter nie, maar dit is ook weer tyd vir ons jaarlikse gebiedskampe vir die penkoppe en drawwertjies.

Sou jy gedurende die Oktober skoolvakansie ’n vlieg teen die spreekwoordelike muur van die Doornkloof gewees het, sou jy ‘n miernes van aktiwiteite op die gewoonlik rustige, en natuurskoon plaas van ons, beskou. Oral hoor jy kamp liedjies en krete soos wat besige penkoppe en drawwertjies rondskarrel vir die volgende vyf dae.

 

Elke kraai dink natuurlik sy eiers is die witste, en dit is verseker ook nie anders met die vier onderskeie gebiedskampe nie, maar ek kyk graag na die groter prentjie. Die Voortrekkers is ’n jeugorganisasie wat die ontwikkeling van die Afrikanerjeug bo-aan die agenda stel. Dit is juis uit daardie oogpunt dat die sinergie tussen die vier kampe: Doornkamp, Klitsgras, Murgpyp en Avontuurkamp my sterk opval. Daar is ‘n pragtige dans tussen die karakter en kultuur van elke kamp soos wat die jeuglede vorder in hul Voortrekkerloopbaan. Eers is dit die traumatiese ervaring van vyf dae weg van pa en ma op my eerste Gebiedskamp, Doornkamp. Daarna bou ons op die nuutgevonde selfstandigheid met kamp Klitsgras. Dit word gevolg deur ‘n fantastiese ontnugtering tydens kamp Murgpyp, waar elke jeuglid diep in hul karakter moet delf om die murg in hul pype te vind. Ten einde laaste volg Avontuurkamp, die kroon op elke penkop en drawwertjie se Voortrekkerloopbaan.

 

Avontuurkamp het ’n ryk geskiedenis van tradisie en kultuur wat al vir nagenoeg veertig jaar in wording is. Die kamp is gebou rondom die veld bewustheid spesialisasie, en dit is tradisie dat kampeerders hul eie skuilings in groepsverband bou, en dan vir die grootste deel van die kamp in hul eie skuilings slaap. Dit is voorwaar interessant om elke jaar, sonder uitsondering, die bekommerde gesiggies te sien. Vrese oor spinnekoppe, reën en koue is aan die orde van die dag, maar telkens word dit vervang met ’n selfvoldane glimlag na die eerste nag. Die kinders besef vinnig dat hulle tot baie meer in staat is as wat hulle self soms dink. Ek lê hierdie oorwinning vierkantig voor die deur van vier jaar se konstante uitdaag en opbou by die ander gebiedskampe, en die harde werk van spanoffisiere regoor die jeuglede se loopbaan tot nou toe.

Die verskillende doelwitte van die veld bewustheid spesialisasie sluit onder andere die volgende in:

  • Naggeluide en daggeluide in die veld.
  • Inheemse en uitheemse plante identifiseer.
  • Natuurverskynsels soos heersende windrigting, erosie en besoedeling.
  • Kennis van die voordele en nadele van veldbrande en bestryding daarvan.
  • Rigtingbepaling in die veld, deur natuurlike hulpmiddels sowel as mensgemaakte hulpmiddels.
  • Besoedeling se impak, herwinning of herbenutting van rommel.
  • Ekosisteme en die mens se rol daarin.
  • Nasionale simbole.
  • Rooi-datalys en bedreiging van spesies.
  • Elementêre kennis van sterre en die gebruik daarvan vir rigtingbepaling.

 

Die inhoud word geleer en prakties toegepas, sover moontlik, maar Avontuurkamp is verseker nie ’n bleek akademiese gedoente nie. Ek staan altyd verbaas aan die einde van ’n kamp, na al die lag, sing en speel, om te sien hoeveel van die inhoud regtig geleer is deur die kinders. Ek dink die geheim lê in ’n span toegewyde offisiere.

Avontuurkamp se sterkste kenmerk is verseker die familie-karakter van die kamp… Oud en jonk, sonder uitsondering is deel van die Avontuurkamp-familie.