Bakenkamp

deur Jorina Minnie

Matriek is gewis ’n dol jaar, en die PV-proses dra by tot wat reeds ’n stresvolle en uitdagende jaar is.  So, wat maak ’n (matriek) Trekker vêr op haar of sy Verkennerloopbaan as dinge moeilik raak?  Gaan kamp saam met vriende.  Geniet die natuur, gesels oor alles wat saak maak en werk hard om voorbereid te wees vir die uitdagings wat kom, natuurlik.

Die Wes-Kaap Verkenner Taakgroep van Die Voortrekkers Kaapland bied elke jaar, aan die einde van die eerste kwartaal, die Bakenkamp aan op Wemmershoek.  Hierdie is ’n hersienings- en voorbereidingskamp vir die Presidentverkennerproses, maar ook ’n kamp vir sorteer-my-kop-uit en dink-oor-die-lewe-na-skool en besluit-waar-ek-staan en besluit-wat-is-regtig-belangrik.

Die kampprogram bied geleentheid vir ’n vinnige hersiening van wat die Verkenners deur hul Voortrekkerloopbaan geleer en ervaar het, fokus op leierskap, spanwerk en belangrike lewensvaardighede, en sluit die geskenk van persoonlike terugvoer in.  Daar word ook baie tyd in oop gesprek bestee oor verskeie belangrike kwessies, insluitend Afrikanerskap, Burgerskap, Christenskap en sake van die dag.   Die belangrike punt word gemaak dat debat nie ’n doel is nie, maar ’n manier om by ’n oplossing uit te kom.

Bakenkamp 2019 was ’n kamp met geleentheid vir persoonlike groei en ’n bietjie fokus bou. Die interaksie en skakeling met PD-kampe wat ook op Wemmershoek plaasgevind het, het die Verkenners geleentheid gegee om speletjies te hanteer, saam te sing, ’n bietjie drama te maak, en aan PD’s te verduidelik en te wys hoe lekker dit is om Verkenner in Die Voortrekkers te wees.

Vir die aanbieders van die kamp, onder leiding van kampleier Jorina Minnie, is dit altyd ’n voorreg om tyd te spandeer met matrieks wat aan die einde van hul jeugloopbaan as Voortrekkers staan, en toonbeelde is van hoe Die Voortrekkers jong mense help vorm as moderne Afrikaners, positiewe burgers en konsekwente Christene – ware bates vir ons samelewing.