Boet Botma-kommando hou groot feesvieringe

deur Mathilde de Klerk en Ella Rudolph

Hoe geseënd is ons om ons Voortrekkers se 90ste verjaarsdag saam te mag vier!

Ons kleintjies het ’n speletjie- en fliekaand gehou. Die koek is gebak, derdemannetjie het ons omtrent laat lag, en die kinders moes stoei om sokkies gesteel te kry. Die pappas het heerlike worsies gebraai en hul kamtige “braai-kenteken” ontvang. Ons waardeer elke helpende hand só baie!

Met die graad 7’s se vieringe het die pappas die braai behartig, terwyl die mammas melktertjies vir nagereg bou. En terwyl almal gewag het vir die Hou Koers-konsert om te begin, het die kinders gedoen wat hulle die beste doen – gespeel! Daar is kerse aangesteek, geld uit die bak gehaal met breipenne, koppies opmekaar gestapel en weer afgestapel, alles soveel as moontlik in net 90 sekondes.

Die 4de Oktober het die Verkenners, as deel van die Ondernemerskap-kenteken, gesels oor bemarking en die rol daarvan in ’n besigheid. Ons het gepraat oor advertensies en waarom dit belangrik is en wat dit aan jou besigheid/geleentheid kan doen. Ons het bespreek wat dit behels om ’n goeie advertensie te maak:

  • Die advertensie moet ’n treffende opskrif bevat.
  • Die advertensie moet kragtige prente gebruik.
  • Om ’n doeltreffende advertensie te maak, moet jy jou teikenmark ken en verstaan.
  • Die advertensie moet uniek wees.
  • ’n Advertensie kan interaktief wees en die leser roep tot aksie.
  • ’n Advertensie moet praktiese inligting bevat.

Die Verkenners het toe tyd gekry om hulle eie advertensie te maak – ’n Advertensie/Uitnodiging na die 90ste Verjaarsdagfeesete wat ons kommando beplan het. Die Verkenners het hulself gate uit geniet!

Mag God die Voortrekkers, as organisasie en as individuele lede, seën en nog baie jare spaar. Mag Hy ons op die regte paaie lei en ons die krag gee om nooit moeg te word om koers te hou nie.