Boknes ’n tuiste vir Oos-Kaap se Voortrekkers

Wat beteken die naam Boknes? Niemand weet regtig nie, maar dié wat wel weet, soos Oom Theuns Human, het vir my vertel dat die predikante wat hier kom kamp het, altyd bokbaardjies gedra het. Of dit waar is, weet ek nie. Ek glo dit is ’n wolhaarstorie! Maar …

Wat ek wel weet, Boknes is deesdae die tuiste van Oos-Kaap se Voortrekkers. Tydens die April- en September- skoolvakansie ken niemand rus op Boknes nie, want dan wemel dit van aktiwiteite. So was dit weereens gedurende die pas afgelope vakansie.

Onder die bekwame leiding van Nig Susan Mulder, wat al 19 jaar kampleier van die Verkennerkamp is, het ons weereens aan ons kinders ervaringe gebied wat net nooit op ’n ander plek ervaar sal word nie. Daar is nuwe vriendskapsbande gebou en heerlik gekuier.

Ervaringe soos besoeke aan Huis Dias op Alexandria, die wonderwêreld van rotspoele (krappe vang en seekatte jag), ’n staproete na Diaskruis by Kwaaihoek, malvalekker braai op die strand en net stil te luister na naggeluide terwyl Hoofleier Danie Langner ’n gebed doen, is maar van die min ervarings wat die Graad 7- Penkop en Drawwertjies hierdie week ervaar het.

Dan was daar nog Verkenners wat geroei het, een nag in die duine gaan slaap het, potjiekoskompetisies, lantern bekruip op die duine tydens die jaarlikse nagmars, jukskei speel en swem in Karel Landman Monument se plaasdam. Wie kan nou beter vra!

Natuurlik is die beste wanneer almal gaan slaap en wagbeurte uitgedeel word. Wie skuil daar in die donker? Dalk een van die buitegroep (Gr 12’s). Die opwinding en die afwagting maak elke Verkenner paraat.

Dankie vir een van die beste kampervarings! As jy nog nie hierdie wonderlike seekamp belewe het nie, MOET jy volgende jaar beslis ’n plan maak om op Boknes te kom kuier, waar Voortrekkers saamtrek gedurende die April- skoolvakansie!

deur Riana Breytenbach