Boknes PD-kamp 20-24 September 2019

Lizan Burger

Die kamp het afgeskop met ’n groep entoesiastiese kinders wat ten spyte van die koel weer heerlik aan alles deelgeneem het!

Die kamp se tema vir 2019 was superhelde omdat ons graag die superheld in elke kind wil wakker maak.

Bou ‘n ossewa by Graad 3 se Toeka

Graad 3 het die Toeka en Seeplante spesialisasies gedoen.  Daar is so speel-speel geleer hoe dinge vanmelewe gedoen is.  Seeplante is die eerste treetjie in ’n loopbaan vir die Voortrekker wat in sy/haar graad 11-jaar Selfbehoud gaan doen.

Die Noodhulp spesialisasie vir graad 4 verryk elke jaar ons kinders.  Ons was bevoorreg genoeg om vanjaar ’n “regte” wond te kon behandel.  Sien die videogreep daarvan op ons Facebook-blad: Die Voortrekkers:  Boknes PD Kamp.  Tydens die Seekennis spesialisasie het die kinders die NSRI besoek en meer van hierdie instansie se werk geleer.

Ons leer roei

Om te leer roei, is ’n voorreg vir enige kind, maar ’n absolute plesier vir ’n graad 5 op Boknes PD-kamp.  Daar word eers op droë grond geroei dat die stof so staan, voordat die kajakke te water gelaat word.  Die grootste opwinding vir graad 5 is egter die Boeresportoggend wat hulle moet beplan en vir almal aanbied.  Gewoonlik word hierdie oggend op die strand aangebied, maar die weer het ons planne gefnuik met ’n welkome reënbui.   Die hoogtepunt van die Boeresportoggend, was toe al die volwassenes op die kamp teen al die jeuglede op die kamp tougetrek het!!  Gaan kyk wie gewen het op ons Facebook-blad:  Die Voortrekkers:  Boknes PD Kamp.

Om jou rigting met die sterre te vind, sodat jy ’n stewige skuiling kan bou, was die doel vir graad 6.  Hulle het intensiewe Sterrekunde-lesings gehad.  Wanneer hulle nie van die sterre geleer het nie, was hulle op soek na kos in die duine, besig om skuilings te bou of om mekaar uit die water te red.

Skuiling beplan

Geen kamp kan op ’n leë maag funksioneer nie!!  Ons hoofstoof en haar assistent het gesorg dat die magies vol en dors geles bly.  Ons het weer ’n heerlike Sondagmiddagete gehad met gebakte aartappels, karamel pampoenpoffertjies en malvapoeding.  Wat ’n voorreg!

Ons is baie bevoorreg om jaarliks hierdie kamp op ons pragtige terrein te kan hou.  Ons het ’n fantastiese span groepleiers wat geen moeite ontsien om ’n kamp lekker te maak nie.  Baie dankie aan julle vir julle toegewydheid en harde werk!  Dankie dat julle die offisiere se prysuitdeling so geniet het!

Baie dankie ook aan ons Hemelse Vader dat hy ons veilig gehou het tydens ons kamp.

Hou Koers na Boknes!