Brandkop Minecrafters
deur Jaco Erwee
Brandkop-kommando het besluit om tydens die grendeltyd iets vir ons Verkenners aan te bied. Na baie dinkskrums het ons besluit om twee spesialisasies aanlyn aan te pak deur die populêre speletjie Minecraft te gebruik.
Die kommando het op 8 Mei ons eie bediener begin en al die lede van die kommando is genooi wat sou belangstel om saam te speel en so ’n spesialisasie te verwerf. Die twee spesialisasies wat aangepak word, is Kuns en Ondernemerskap.
Die grootste belangstelling is in die Ondernemerskap-spesialisasie waarvoor Minecraft ideaal voor is. Verkenners moet ’n plaas bou om items bymekaar te maak om te kom verkoop in die Handelsdistrik wat sentraal gebou word tussen elke speler se basis. Hier moet die Verkenner sy eie winkel bou (nadat hy sy stukkie grond gekoop het), voorraad voorsien en handel dryf. Hulle moet boekhou van inkomste en uitgawes vir sy winkel of winkels.
Vir die Kuns-spesialisasie moet die Verkenners ’n skildery maak van minstens 128 x 128 pixels groot. Die kunswerk moet dan in die gallery geplaas word vir beoordeling, asook die koördinate van ’n monument wat hulle gebou het, sodat ander spelers dit kan besoek.
Ons werk egter nie heeltyd net aan spesialisasies nie, maar pak ook groot bouprojekte saam aan en het mini-kompetisies en speletjies wat gebou is op die bediener. Daar word van Discord gebruik gemaak sodat ons almal lekker kan gesels terwyl ons speel.
Ons twee voedingskole is ook onlangs genooi om solank te kom saam speel en die lede van ons kommando te kom ontmoet.
Besoek ons Facebook blad om video’s te sien by https://www.facebook.com/groups/Brandkop
Ons webblad het baie foto’s en nuus van wat op die bediener plaasvind: https://sites.google.com/site/brandkopvoortrekkers/brandkop-minecrafters