Bybels vir die Russe

“Wat gaan ons vir hulle gee om te eet?”, was Melanie se eerste vraag toe ek vir haar inlig dat die ses Russiese studente wat as gaste van die FAK Suid-Afrika besoek, Sondag na kerk by ons kom eet.  Die antwoord was maklik. Elaine se boerekos. Boonop sal dit nie net vir die Russe nie, maar ook vir ons kinders ’n vreemde ervaring wees om vir ’n slag weer boerekos op ’n Sondagmiddag te eet. Hoenderpastei met skilferkors, boontjies, gebraaide aartappels en pampoenkoekies met baie kaneelsuiker. Vir nagereg wat anders as melktert, koeksisters en koffie.

Ek moet bieg, ek was effens skepties oor die Russe se besoek. Ons het grootgeword in ’n tyd waar ons gewaarsku was teen die Rooi gevaar, die groot Beer, die hamer en sekel. Op my boekrak staan God se Smokkelaar van Broer Andrew. Die boek vertel die verhale van soveel Christen-martelare wat hulle lewens opgeoffer het om die Bybel na die voormalige Oosblok-lande en Sowjet-Unie te smokkel. Die Westerse agterdog teen Vladimir  Putin help ook nie om vertroue te bou nie.

Tog strek die bande tussen Afrikaners en Rusland veel verder as Rooi Rewolusie van  1917. Tydens die Anglo-Boereoorlog  het Rusland die twee Boererepublieke ondersteun. Behalwe die  Russe wat aan Boerekant geveg het, het Rusland mediese personeel bestaande uit nege dokters, 24 verpleegsters, 31 assistente en agt ambulans-eenhede vir die Boere-republieke beskikbaar gestel. In opdrag van Tsaar Nicholas het Rusland ook hospitale gebou in die ses grootste dorpe van die ou ZAR. Die suster in bevel was Ilena Ezhevsky, ’n baie bekwame verpleegster wat ook tydens die Russies-Turkse oorlog diens gedoen het. Sy was bekend vir haar deeglikheid, maar ook vir haar humeur. Baie Boere het agterna spyt uitgespreek dat sy nie  ook ’n paar Britse soldate verpleeg het nie.

Tussen die hoenderpastei en melktert het ons mekaar raak gekuier. Die Russiese studente, wat nou al by die FAK ons Russe genoem word, is almal nagraadse studente in Afrika-geskiedenis by die Lomonosof-Moskouse Staatsuniversiteit. Hulle navorsing oor Liberië, Uganda, Ethiopië, Somalië, gewapende konflik, Pan-Afrikanisme was insiggewend. Ek het gewonder hoeveel van ons jongmense met soveel insig oor ons kontinent se vraagstukke kan gesels. Twee verrassings was ’n studie oor die invloed van sendelinge in Afrika deur Alena Fedyukova en sowaar ’n M-studie oor Afrikaners deur Dasha Turyanitsa.

Ons leef in ’n vreemde wêreld vol ironie. Terwyl die hoofman van die Kommunistiese Party in Suid-Afrika, minister-kameraad Blade Nzimande en bondgenote hard werk om Afrikaans op kampusse uit te roei, word Afrikaans in Moskou doseer. Al het die departement sy ontstaan te danke aan die Koue Oorlog en die KGB is Afrikaans steeds een van ’n handjievol Afrika-tale wat aan die grootste universiteit in Rusland doseer word.  Afrikaans het die val van die Berlynse muur en die verbrokkeling van die Sowjet-Unie oorleef en haarself as ’n as internasionale kommunikasietaal gevestig. Die Russiese studente se uitstekende taalgebruik is die beste getuienis van die lewenskragtigheid van  Afrikaans wat ek in ’n lang tyd gehoor het.

In die jaar waarin die ANC die honderd jaar van Lenin se Rooi-rewolusie (1917-2017) wil vier, sal hierdie groep Russe nie saamstem met die destydse ANC-president Josiah Gumende se stelling dat hy “die nuwe Jerusalem” na afloop van sy besoek aan Stalinistiese Rusland gesien het nie. Dit was insiggewend om te hoor hoe die jong Russe ook worstel met die vraagstukke waarmee ons jongmense ook sukkel. Vraagstukke soos die hantering van ’n komplekse geskiedenis; die stereotipering van mense en kulture; die behoefte om anderkant ’n rigiede ideologie te tree, maar wat onlosmaaklik deel van jou storie is (ons met apartheid en hulle met kommunisme); polities-korrektheid; armoede en die politiek van ’n deurmekaar wêreld. Dit is vraagstukke wat hulle ook in hul gesinne en aan hul kultuurlywe voel. In die  dieper raak-kuier, ontdek jy vinnig taal is nie die enigste band wat ons uiteenlopende wêrelde bind nie.

Hulle het ’n besige program gehad met besoeke aan ’n leeuplaas, universiteite, organisasies, ‘n Afrikaanse skool, Kwêla, Binnelanders, Media 14 en winkelsentrums. Hulle het gebraai, gekuier, skilpadjies geëet, Afrikaanse films gekyk en na Jak de Priester geluister. Met ons laaste groet het Valentina opgemerk die hoogtepunt vir haar was die erediens by NG gemeente Lyttelton. Sy het die gemeentesang en orrelmusiek as “aangrypend” en “helder” beskryf. Ek het gewonder hoeveel van ons Totius-psalms en Liedboekliedere so sal beskryf?  Dit was ’n ervaring om te hoor hoe Alice Balikhina tydens die erediens eers in Afrikaans bid en daarna die Onse Vader in Russies lees. Alena was verras toe sy ’n ikoon van Rublev in Die Kerkbode sien.

Vandag is dit nie meer nodig om Bybels na Rusland te smokkel nie. Tydens die diens het die graad 7- Voortrekkers van Polsslag Voortrekkers aan die Russe die grootste, mooiste en kosbaarste geskenk oorhandig wat ons in Afrikaans het. Dit is die Afrikaanse Bybel.

Ons is Protestants, hulle Russies-Ortodoks, maar ons dien een Here. Ons sing mos in Lied 478:2:

“Hy roep uit alle volke ’n volk vir Hom tesaam

 Een in geloof en werke een in sy heil’ge Naam”

Valentina het dit raakgesien. Geloof is die sterkste band wat ons oor grense bind.

Deur: Danie Langner