Die prys van ’n Voortrekkerbaadjie

Ek was bevoorreg om die afgelope tyd ’n hele paar graad 7-Penkoppe en Drawwertjies geluk te wens met hulle Voorslagtoekenning. By elke geleentheid is hulle Voortrekkerbaadjies met die rye kentekens wat hulle so trots dra opvallend. Dit het my laat wonder wat kos ’n Voortrekkerbaadjie vir ouers as hulle kind van graad 1 tot graad 7 ’n Voortrekker is?

Indien ’n pa vandag ’n Voortrekkerbaadjie saam met al die kentekens moes koop vir ma om voor die Voorslagtoetsing vas te werk, sal dit hom presies R500 uit die sak jaag.

Dit word bereken op:
Erkenningsbaadjie R180
Voortrekkerwapen R18
Gebiedswapen R13
Drawwertjie- en/of Penkop-kenteken R12
ABC R11
Naamlint R7
Spankenteken R7
3 x Klokkies @R7 elk R21
2 x Voorjukke @ R7 elk R14
7 x Graadwiele @ R7 elk R49
Dagbreekgraadwiel R7
23 PD-spesialisasies @ R7 elk = R161

(Die feit dat ’n snelgroeiende laerskoolkind gemiddeld 3x baadjies van graad 1 tot 7 koop, word nie ingereken nie.)

Voortrekkerouers weet dit is glad nie die volle finansiële prentjie nie.

Saam met ’n Voortrekkerbaadjie word ’n Voortrekkerhempie, denim en tekkies gedra, konserwatief oor 7 jaar bereken op R1500.

Om Voorslag te kan doen, moet ’n kind ook ’n paar gebiedskampe bywoon. ’n Gemiddeld van 5 Gebiedskampe met ’n gemiddelde kampkoste van R700 p.j. word bereken op R3500 vir 5 jaar.

Indien die Voortrekker 5 kentekens op spesiale kentekendae gedoen het, sou die koste konserwatief bereken R1500 oor 7 jaar beloop het.

Die ander 16 kentekens sou die kind moes doen op ekstra gebiedskampe, nog kentekendae of in spanverband. Dit word bereken op R6000 oor 7 jaar.

Een kommandokamp per jaar bereken oor sewe jaar teen R300 per kamp beloop R2 100.

Die jaarlikse ledegeld van Graad 1-7 beloop R4200 uitgewerk op R600 per jaar of R50 per maand.

Dit is ’n totaal van R17 200.

Dit is steeds nie die volle finansiële prentjie nie.

Petrol word konserwatief bereken op R600 per tenk (teen 1985 se petrolprys). Ouers ry gemiddeld 3 tenks per jaar uit vir Voortrekkeraktiwiteite. Dit werk uit op R1800 p.j. × 7= R12 600 se Voortrekkerpetrol vanaf graad 1-7.

Diverse uitgawes soos bykomende benodigdhede vir kentekens, inlywings, spankampe, voorbereiding vir Voorslagproses, snoepie, en as jy pakkies fudge koop vir R20 by Voriemôl wanneer jy kentekens gaan afhaal, word baie konserwatief bereken teen R500 p.j. × 7 jaar = R3 500.

Die totale uitgawe van ’n Voortrekkerbaadjie oor sewe jaar beloop R33 300.

Die INKOMSTE word kwalitatief bereken deur:
Die aanleer en bevestiging van konsekwente Christelike waardes.
’n Veelvoud van lekker kampstories en ervaring.
Vriendskap en samesyn.
Pret en avontuur.
Karakterontwikkeling.
Selfvertroue.
Aanvaar verantwoordelikheid.
Liefde vir taal, kultuur en erfenis.
Trots.
Selfrespek en respek vir ander.
Selfdoenvaardighede.
Leierskapsontwikkeling deur KAN-ervarings (Kultuur + Avontuur + Natuur = KAN)
Kennis van Afrikanergeskiedenis, erfenis en helde.
Bereik van doelwitte deur spanwerk.
Verskil in gemeenskap deur positiewe diensbaarheidsprojekte.
Weerbaarheid.
Erfenisbewaring.
Kampvure.
Koffie onder die sterre.
’n Gebalanseerde lewensuitkyk.
Toekomshoop.

Die WINS van ’n Voortrekkerbaadjie lê in geluk. Feitlik elke kamp en spanfoto is ’n getuigskrif van gelukkige kinders. As ons kinders gelukkig is, is Die Voortrekkers gelukkig. Die Voortrekkers is sonder twyfel ’n gelukkige beweging. Geen geld op aarde kan die waarde van geluk bereken nie.

Baie dankie aan die letterlik duisende Voortrekkerouers en volwasse lede vir julle kosbare en onmeetbare toekomsbelegging in die lewe van ons kinders.

deur Danie Langner