Die spore wat ons los
deur Danie Langner
Die Voortrekkers is vanjaar 90 jaar jonk. Met die jaartema: VOORTREKKERS GAAN GROOT, gaan ons in 2021 groot feesvier. Voortrekkerkommando’s, oorde en kampe beplan reeds GROOT feesgeleenthede en diensprojekte waar Voortrekkers vrolik saam met Kuifie, Arthur en Faf, vlaggies, verjaarsdagkoeke, groot pret en plesier heeljaar feesvier en terselfdertyd diensbaar in hul gemeenskappe is.
Die bekende Afrikaanse sanger, Adam Tas, gaan in Augustus en September landswyd Voortrekkerkonserte in Suid-Afrika en Namibië hou. ’n Spesiale feeslied, “Die spore wat ons los”, se lirieke is geskryf deur Johan Vorster en Jacomien de Villiers en getoonset deur Johan Vorster. Johan is een van die top Afrikaanse liedjieskrywers met treffers soos “De la Rey”, “Ons vir jou” en “Afrikanerhart”. Die lied is ook deel van ’n nuwe Afrikaanse musiekblyspel oor die Gelofte en die Groot Trek. Dit gaan ’n GROOT treffer wees. Met die lied bevestig Die Voortrekkers nie net die kontinuïteit tussen 2016 se Trap nuwe spore-fees nie, maar soek ook die verband met die verlede deur erkenning te gee aan die spore van gister. Terselfdertyd is die lied toekomsgerig, want ons storie word steeds in Afrika uitgekerf en die toekoms wink vir ons. Die lied bevestig Die Voortrekkers se geloofsgrondslag, maar ook die Voortrekkerkarakter soos integriteit (’n Voortrekker se woord is sy eer), dade van durf en diensbaarheid. Dit is die Voortrekkerspore wat ons in 2021 wil los.
Die Hoofbestuur het ’n pragtige feeskenteken met ’n besondere simboliek goedgekeur waarmee elke Voortrekker op sy baadjie kan pronk.
Nelmari Albertse-Oosthuysen beskryf die simboliek as volg:
Die nuwe spore van ons ploegskaar lê ’n roete van groei uit –
’n land gereed gemaak, waaruit nuwe lewe spruit.
Daar is opwinding en nuwe geleentheid in ’n geploegde land se geur.
Vooruit! skree die Trekker, terwyl die ploegskaar die harde grond ombeur.
In die omkeer van ons geploegde grond ontwortel onkruid wat sal vergaan,
terwyl ons grondslag-voedingstowwe van diep uit ons aarde na bo die waardes baan.
Die eweredige bane van ons geploeg simboliseer ons rigting en ons struktuur.
Daarsonder sou ons ruggraatloos wees, maar gelukkig nou in ’n ABCD-rigting gestuur.
Vir nege dekades al was die geploeg en geplant deel van ons Trekker-reis.
Ons lote het gegroei en uitgepruik soos ons vlag; gehys.
Geken aan ons Vrug, weet ander ook wat ons belofte sê:
Om ons medemens te dien, maar bo alles die Here lief te hê.
Met die regte voedingswaarde uit ’n opregte Voortrekkerhand,
is die toekoms van ons saailinge veilig in ons land.
Mag ons nuwe toekoms bloeisels wees wat vorm tot die vrug van die Gees,
duidelik sigbaar in ons doen en late om ook lote tot Sy Naam se groter gaan te wees.
Dit is ’n jaar om na uit te sien.