Dié verskil in jou spoor!
Trippe, trappe, trone … Hoëvelders trap onweerlegbare spore!
Sommer van die staanspoor af, by aankoms by die Hoëveldkamp, was die kampers in ’n geestige luim in hierdie feesjaar waarin ons die Voortrekkers se 85e bestaansjaar vier! Hoe dan anders … ons gaan dan partytjie hou!
Nadat almal ingeburger is en die kursusse afgeskop het, wag daar ’n verrassing Saterdagaand – pragtige, veerligte smul-lekker verjaarsdagkoeke en ’n chips pakkie en koeldrank vir elkeen ter viering van die Voortrekkers se verjaarsdag. Op elkeen van die vyf koeke was daar ’n embleem uitgebeeld – die pad wat ons spore volg met ons reis deur Hoëveld-2016 se spore-embleem, deur Hoëveld se kampvuur-embleem en deur die Voortrekkers se 85 jaar Spore-feesembleem tot by die Voortrekker- wapen wat ons herinner aan die nuwe spore wat ons as Voortrekkers hierdie jaar en vorentoe wil trap.
Daarna het groot en klein gaan baljaar in die saal met die skuimpartytjie! Menige “kersvaderbaarde” en “Olaf sneeumanne” het hulle verskyning in die saal gemaak daardie aand …
Sondagoggend het oom David Scribante die kinders vasgenael gehou met sy boodskap oor die 10 Gebooie. Die kinders het telkens rats probeer paaseiers wen as beloning vir hulle ywerige deelname en onthou van watter tipe spore Jesus wil hê ons moet trap. Fluks het die kursusse daarna weggespring met hulle lesings en aktiwiteite terwyl hulle tussen deur toegewyd begin voorberei het vir die gebruiklike kampvuurkonsert op die laaste aand. Almal het ook opgewonde gezoem en gebabbel in afwagting vir die Feesjaar-kameraspan wat Dinsdag ’n draai sou maak!
Sondagaand – die kursus- en uitslaapaand – het Veldbewustheid ’n ware ridder op ’n ysterperd gehad wat vir hulle brood gebring het vir die ekstra honger magies in die veld. Hulle was oom Heinrich van Vasbyt SO dankbaar dat hy in hulle kampvuur item vereer was.
Die Vasbyt-kursus kry Maandag die eerste geleentheid om die nuwe vragnet by die hindernisbaan te gaan uitprobeer. Vir sommiges was die hoogste spits ’n persoonlike oorwinning en die “ingevoerde ingenieurs” wat die raam gou die oggend gebou het, het trots toegekyk hoe die kinders dit kafdraf!
Maandag se Waterkaskenades en Veldfliek is jaar in en jaar uit baie gewild en die res van die kinders het hulself gate uit geniet terwyl die Medemens-kinders en volwassenes ’n lekker boere-opskop by die Medemens-ete in die saal gehou het. Die Medemens-kinders het trots vir almal die sporedans gewys wat hulle tydens die kamp geleer het en daarna het die boere-opskop tot sy reg gekom met almal wat by hul aangesluit het vir verskeie lyndanse.
Uiteindelik breek Dinsdagoggend aan en die kinders sien blinkoog uit om te spog met hulle kursusaktiwiteite vir die Feesjaar-kameraspan! Werner en die filmspan het alles vasgelê op film, van Spele se jukskei speel en Veldkook se kampvuur-springmielies, middagete se “Vir Spys en Drank”-gebed tot die Vasbyt-toutrekuitdaging met die offisiere. Die offisiere het hierdie jaar so hittete die stryd gelykop laat eindig met ’n verrassende wenslag met die tweede trekbeurt – ’n rare geskiedkundige oomblik. Die opname van die “Sporelied” saam met Jak de Priester se CD was veral ’n hoogtepunt vir die kinders en hulle het uit volle bors hul bydra gelewer. Die Medemens-kinders het ook uitgeblink met die “Sporelied”-dans!
So kom alle goeie dinge ook dan tot ’n einde … die laaste aand breek die kampvuurkonsert aan en elke kursus het met oorgawe hulle kampvuuritems gelewer om weereens ’n onvergeetlike aand onder die sterre in almal se geheue vas te lê! Die Graad 7’s se opgewondenheid ken geen perke oor die sokkie agterna ter afsluiting van hulle aand nie. Die “Cotton-Eyed Joe” is by verre altyd die gewildste lied by die sokkie en die klankman, Francois, het hulle nie teleurgestel nie!
Geluksalig het die Hoëvelders in hulle beddens en slaapsakke gaan kruip om die laaste dag hulle spore terug te lei na hulle eie kommando’s. Hier by Hoëveld word jou spore nie verdien soos in die uitdrukking nie … maar jou spore word weer vernuwe om jou op die pad vorentoe te help koers hou! Elkeen ontvang by die afsluiting ’n spore-sleutelhouer ter herinnering daaraan.
Trekkers, stap uit met die vlam van Hoëveld en sien julle gou weer terug volgende jaar nadat julle spore oor ver paaie heen geloop het!
Deur: Jaconette de Kock