Die Voriemôl word een
deur Danie Langner
Die Voortrekkers het Voriemôl in Pierneefstraat 902 Pretoria, se eerste verjaarsdag gevier. Op 25 Januarie 2018 is die lint geknip en die deure amptelik oopgestoot.
In die Voriemôl is kreatiewe aktiwiteitespakkies vir vlytige Voortrekkerspanne soos mosaïekwerk, lapverf, verf van Voortrekkerwapens, touwerksakkies, ’n groot reeks legkaarte, speletjies tot splinternuwe speelkaarte. Voortrekkerhempies, wolmusse, hoede, pette, warm baadjies tot fietsryhemde is hier beskikbaar. Dan praat ons nie eers van spogprodukte, die oulike Afrikaanse geskenke, lekker middernagfeespakkies, Voortrekkerkombersies, bekers, Voortrekkermesse en glase nie. Daar is slaapsaksakke, veldrugsakkies, vlagsakkies en toiletpapiersakkies wat van Die Voortrekkers se veldreeksmateriaal gemaak is.
Dit is nie eers nodig om die Jakarandastad te besoek om by die Voriemôl te kom kuier nie. Voortrekkers, ouers en vriende van Kaapstad tot Windhoek is net klikafstand ver met ons eie aanlyn winkel https://voriemol.voortrekkers.co.za.
Boonop is die nasionale hoofkantoor ingerig as ’n moderne kultuurkantoor en museum waarop elke Voortrekker trots kan wees. Ou argiefstukke is uit klein stoorkamers en stof-plastiek uitgehaal, afgestof en blink gevryf. Ons het immers ’n pragtige kultuurstorie wat vertel en uitgestal moet word.
Die omskakeling van die tagtig jaar oue Voortrekkerdepot in ’n moderne Afrikaanse kultuur- en gemeenskapswinkel is ’n geloofsdaad. Ons kyk vandag terug na 2018 met dankbaarheid:
Totale items verkoop in 2018: 97 027
Voortrekkerhempies in 2018 verkoop: 3 499
Erkenningsbaadjies in 2018 verkoop: 1717
Aantal items verkoop op aanlyn winkel: 15 055
Sedert 2013 tot 2018 het die verkope met 137% gegroei.
Vanaf 2017 tot 2018 met 23%.
Die statistiek getuig van ’n kultuurorganisasie wat wil en kan moderniseer. Die Voriemôl is ’n eietydse ekonomiese enjin wat ook help dat ledegeld eerder op grondvlak vir kinders en die groei van plaaslike Voortrekkers aangewend kan word.
Dankie aan Karin, Jan, Annatjie, Sinta, Lidia, Zelda, Heléne, Julia, Emily, Sonja, Albertien en Imke en nog tientalle ander Voortrekkers vir julle harde werk, innoverende denke, fyn beplanning en rande rek. Dit word raakgesien en waardeer.