Diensbaarheid is die hartklop van ons kultuur
deur Danie Langner
Die graad 11 Jakkalsspan van Rocco Knobel Voortrekkers in Kimberley het besluit om ’n “Sop in ’n bottel”-projek van stapel te stuur. Die doel van die projek is om voedselhulp te verleen aan arm mense wat swaarkry, mense in nood en wat hulle werk gedurende die Covid-19-pandemie verloor het. Die “Sop in ’n bottel”-projek bestaan uit ’n koffie-/mayonnaise-bottel, gevul met rooi lensies, bruin lensies, droë ertjies, sopmengsel, rys, pasta, soppoeier en sous-/geurselblokkie. Een so bottel kan vir 6 mense ’n lekker koppie warm sop gee. Die Jakkalse het reeds 500 koffiebottels bymekaar gemaak en R3590.00 ingesamel. Hulle gaan vir 2000-3000 mense deur die projek kos gee.
Hierdie is maar een voorbeeld van talle suksesvolle uitreikprojekte in die Voortrekkers in hierdie dae van nood. So het Klapperkop Voortrekkers in Pretoria ook 500 bottels ingesamel en aan Solidariteit Helpende Hand oorhandig. Regoor die land het Voortrekkers fluks gehelp om omgeepakkies bymekaar te maak en dit met liefde te deel. Hoekom doen Die Voortrekkers dit? Sou mens nie kon verwag dat ’n kultuurorganisasie soos Die Voortrekkers moet fokus op die behoud en ontwikkeling van ons taal en kulturele erfenis nie? Ja, die Voortrekkers doen dit ook, maar die helpmekaargees is deel van Afrikaners se kulturele karakter. Die helpmekaargees is gebore uit die swaarkry van die Groot Trek en die Anglo-Boereoorlog en het vlamgevat na die 1914-Rebellie. Deur diensbaarheid en helpmekaar het Afrikaners uit ashope opgestaan, kerke, skole en universiteite gebou en monumente opgerig. Die opbou van helpmekaar staan in skrille kontras teenoor die selfsug en afbreek van die gryp-kultuur wat so kenmerkend van ons tyd geword het. Om dié rede is ’n fokus van diensbaarheid so ’n belangrike deel van die Voortrekkers se vorming van ons kinders se kulturele karakter.
Terug by die Jakkalse van Kimberley. Hulle doen die projek as deel van die graad 11-Voortrekkerwees graadwielopdrag. Die doel van die projek is nie net om waarde tot die gemeenskap toe te voeg nie, maar om hulle ook voor te berei vir die Presidentsverkennerproses. Anders as in die verlede, verseker Presidentsverkenner jou nie meer van ’n rang in die weermag of ’n beurs op universiteit nie. Vandag sien Die Voortrekkers die ontwikkeling van Presidentsverkenners as ’n proses om jong Afrikaners as kultuurleiers en kulturele ambassadeurs te vorm. Wat kan ’n beter getuigskrif wees vir die lewenskragtigheid en daadkrag van ons kultuur as ’n helpmekaargees wat gekenmerk word deur diensbaarheid en omgee. Diensbaarheid is die hartklop van ons kultuur.