Dis tyd!
deur Esther Visser
Dis tyd! was Rhus Keeti 20+1 se tema vir 2021!
Soos Prediker 3:1-11 tereg sê: “Daar is ’n regte tyd vir alles, elke ding in hierdie wêreld gebeur op die regte tyd.”
En so was dit dan ook dat ons in April 2021 weer die tyd gehad het om die groot wit tent se raamwerk te bou.
Nadat ons in 2020 ’n tyd gehad het om te huil oor ons gunsteling Verkennerkamp wat afgestel is, kon ons hierdie jaar weer die tyd kry om saam met ons Rhus Keeti-familie te lag en te dans. Klippe is weggegooi en gras is gesny om die terrein weer gereed te kry vir al die gunsteling kentekens. Dit was wel hierdie jaar die tyd om nie iemand te omhels wat jy jare laas gesien het nie, maar so saam met die Covid-regulasies waaraan ons moes voldoen, het ons ’n onvergeetlike tyd in die Waterberge gehad. Fotografie was daar om oomblikke in tyd vir ons vas te vang om jare vorentoe nog met heimwee te sit en glimlag.
Die Gevorderde Boogskiet-kursus het ook heel gepas ’n hele paar keer die tyd gehad om te soek na pyle wat nie die teikenbord aanvanklik raakgeskiet het nie. Gelukkig met goeie leiding en baie ure se oefening, was dit kolskoot en kon die kursusgangers trots spog met hul pyltjies op die hoed wat vir verskillende kategorieë verdien kon word.
Veldvernuf het ’n interessante storie gehad oor die oorsaak wat daartoe gelei het dat hulle moes oorleef het in die veld. Dit was die tyd toe alle geriewe waaraan hulle gewoond was by die Rhus Keeti-kampterrein, verruil is vir ’n tydperk toe hulle moes leer oor plante wat hulle kan gebruik om te oorleef en plante wat hulle moet uittrek om ’n skuiling te bou. Hulle het selfs geleer hoe om klippe te kap om mespunte en spiespunte te maak.
Dan was daar ook ’n tyd om oorlog te maak en ’n tyd om vrede te maak op die kamp. Verfbal het so tussen die veiligheid van die verfbaltoerusting en die spel se reëls, ook meer van ons land se geskiedenis geleer toe hulle tot aksie oorgegaan het en die Slag van Sannaspos prakties in die bosse gaan uitbeeld het. Gelukkig het die skutte wat gekies is om die Boere te verteenwoordig hulle goed van hul taak gekwyt en het hulle die Engelse oorwin.
Kampbeveiliging het ook nie lyf weggesteek nie. Onder die bekwame leiding van die kamp-ninja het hulle alles van selfverdediging geleer en saam met die kursusleiers se praktiese wenke, suksesvol daaraan geslaag om die Slag van Rhus Keeti te wen, toe die Staatmakers die kamp aangeval en die berugte lied kliphard oor die radio gespeel het. Die offisiere se “vrek-of-veg-spel” gebaseer op die “Hunger Games”-idee was ook … ja, kom ons los dit maar daarby J)
Rotsklim was so rats soos dassies op die rotse. Buiten vir al die pret en plesier teen die kranse wat hulle uitgeklouter het tydens kursustyd, het hulle ook later in die week die hele kamp se kursusgangers gehelp om ’n geleentheid by abseil te gee. Ons is seker dat daar ’n hele paar benoude kursusgangers was wat oor die rant van die krans gegaan het en gevoel het dat dit nou die tyd is om te huil, en as hulle die vrees oorkom het en die avontuur beleef het, weer die tyd om oor hul ervaringe te lag.
Sterrekunde het beleef wat in God se woord staan – “God het alles mooi gemaak toe Hy dit gemaak het.” Op die aand wat hulle gaan uitslaap het om na Saturnus en Jupiter te kyk, was hulle so geseën dat die wolke net vir die presiese venstertyd wat hulle nodig gehad het om na die planete te kyk, oopgemaak het, voordat dit weer toegetrek het. Voëlidentifisering het vir twee volwassenes die geleentheid gebied om saam stil te word, terwyl die voëltjies se unieke fluite geïdentifiseer is.
4×4 het nuwe paaie verken terwyl daar ook op ou paaie gery is. Die Waterberg is geduldig en die tyd het hulle ook geleer om klippe bymekaar te maak om slote op te vul as die voertuig daardeur moes ry.
Dan was daar ook die tyd om te leer. Wat is ’n Voortrekkerkamp sonder sy Staatmakers? Omdat die vakansietyd vir ons studentkampers nie dieselfde was as vir ons skoolleerders nie, moes ons plan maak. Goeie internetsein en studieruimtes is beskikbaar gestel om ons studente so tussen kursustye, akademiese tyd te gee om aanlyn klasse en selfs toetse te kon doen.
Ons was ook baie trots om ons eie “gradeplegtigheid” vir ons veldkornet Annie Maré te kon hou. Sy het gekies om eerder by Rhus Keeti te wees as in Pretoria vir haar virtuele gradeplegtigheid. Annie, ons is so trots op jou en die graad wat jy verwerf het!
En laaste was daar Jag en Wildbeheer. By hierdie kursus het hulle die pragtige natuurskoon beleef, terwyl hulle vaardighede met die geweer geoefen het. Die liefde vir die veld en die respek wat die mens vir God se skepping moet hê, is ook geleer. Daar is ’n tyd om gebore te word en ’n tyd om te sterf. Gelukkig kon hulle darem ’n bok skiet, wat gesorg het vir ’n heerlike wildspot vir die kamp se partytjie. Watter potjie op die einde van die dag tydens die kamp se potjiekoskompetisie die prys gewen het, weet ons egter nie. Ons het vertroulik verneem dat daar van die potjies se kos klaar opgeëet was voordat die beoordelaars daar aangekom het …
Dit is nou tyd om te groet, en ek groet met Prediker se woorde: “Hy het vir die mens geleer dat daar altyd tyd sal wees …”