Doornkloof vier 80 jaar

Doornkloof Voortrekkerplaas is vanjaar 80 jaar die Vrystaat Voortrekkers se hartsplek. Elkeen wie se pad iewers met Doornkloof gekruis het, sal presies verstaan hoekom hierdie stukkie natuur so diep in Voortrekkerharte geanker is. Willie Engelbrecht het dit treffend verwoord: “Doornkloof is ons erfgrond. Kultuurgrond. Afrikanergrond.” Geslagte kinders het in die kloof gespeel, gelag, gekamp, lewensvriende gemaak en die Here beter leer ken.

Kamp Murgpyp se seremonie was pragtig en treffend. Dit was ’n hoendervleis mooi oomblik toe 700 kinders die Doornkloof wekroep, wat sedert 1961 deur die kloof eggo, met soveel entoesiasme sing:

Die bome roep, die klowe roep na jou, na jou
Voortrekkerkind sal tuiste vind by jou, by jou
Hier gaan ons saam
Hier staan ons saam
Hier bou ons saam vir jou
Trou sal ons bly ou Doornkloof aan jou.

Die voorslag knal, ons spanne sal verstaan, verstaan
Die bodem is ons erfenis voortaan, voortaan
Hier gaan ons saam
Hier staan ons saam
Hier werk ons saam voortaan
Trou sal ons bly ou Doornkloof aan jou