Drome word aangevuur by Hoëveld 2019
deur Jaconette de Kock
Met ’n jaar wat alreeds met ’n galop begin het, het ook Hoëveld PD-kamp 2019 vroegoggend op Woensdag 27 Maart 2019 aangebreek. Die kampraad was slaggereed om die busse en voertuie vol opgewonde kinders te ontvang en met oom Kennie se heerlike voete-jeuk musiek in die agtergrond, is die tente sommer gou in gelid opgeslaan. Vinnig het gesoute Hoëvelders en nuwe gesiggies beide hulle voete en nessie vir die 5 dae gevind en teen die tyd wat die kampopening aangebreek het, was die kamp al ’n miernes van bedrywighede.
Die eerste aand se aandprogram het die kamp se aktiwiteite met die prettige en “helder” Liggiepret-speletjies afgeskop. Die juniors en seniors was opgedeel en hulle het in groepe van klein tot groot met vlaggies oor die grasveld van Hartebeesfontein gespaander om die meeste punte in te samel met speletjies soos onder andere kegelbal, ringgooi, dribbel, muis in sy gat, veerpyltjies en nog vele meer. Elke kampraadslid met offisiere as hulp, het die kleurvolle spanne mooi onder oë gehou en die offisiere wat die groepe van punt tot punt vergesel het, moes drafstap om by die opgewonde kinders te kan bybly. Almal was eens dat met al die liggies wat oral te sien was, selfs beurtkrag nie eens die gees sou kon demp nie.
Met die aanbreek van die tweede dag het die kursusse met erns weggespring met hulle kursuswerk en oral was daar kleurvolle pette te sien wat of katjie-kruip oefen, KPR doen, onderhoude voer, opstote doen, knip en plak, potte roer, plante bestudeer. Almal het nuuskierig gewonder wat die “naguile” nou kwansuis in die dag sou doen. Hierdie handjievol kinders het hulle gate uit geniet as lede van die eerste Sterrekunde-kursus wat by Hoëveld aangebied is en hulle wou sommer volgende jaar dit wéér kom bywoon.
Op hierdie dag het die hoofleier, oom Danie Langner, en tannie Elizma Theron, die adjunkhoofleier Penkop en Drawwertjiesake, ook die kamp besoek. Hulle het saam met ’n groep besoekers vanaf die Renosterprojek, besoek afgelê by die Voortrekkerkampe tydens die vakansie. Hulle was ook telkemale verras deur ’n oulike Voortrekkertjie met die naam van “Kuifie” by die meeste van die kampe tydens hulle besoeke. Hier by Hoëveld het Kuifie ook opgedaag en hy het heerlik saam met die kinders by hulle onderskeie kursusse gespeel, en hom goed van sy taak gekwyt by Vasbyt se touspring-uitdaging. Die besoekers is gasvry onthaal deur die Hoëveld-kombuisspan en met hulle innerlike verkwik, het hulle die kampleier se jaarlikse persverklaring gaan bywoon.
Oom Philip en Wallie het weereens ’n redelike opskudding veroorsaak met hulle letterlike interpretasie van hierdie jaar se kamptema: “Drome@Hoëveld – Vuur jou Toekoms aan!” Toe oom Philip later die persverklaring terugtrek, het hy verduidelik dat Wallie gedink het die kinders sou daarvan hou om bietjie meer te slaap soos hy elke dag wanneer hy nie by die kinders is nie. Maar Wallie het ook gedink dat hulle ook graag sou wou droom oor hulle toekoms soos hy graag wil hê hulle moet. Die Veldbewustheid-kursus se kinders wou egter so graag hulle kentekenwerk voltooi, dat hulle ’n petisie opgestel het en dit met ’n optog deur die kamp na die adminkantoor geneem het om aan die kampleier en Wallie te oorhandig. Hulle het dit toe teen die kantoordeur aangebring om almal te herinner dat die kamp baie lekkerder is as om heeldag te slaap en drome te droom – dat dit amper is soos om eerder jou drome uit te leef.
Die besoekers het hulle kuier hier by Hoëveld afgesluit met ’n les oor jukskei en so vinnig die jukskei-gooi bemeester dat die wedstryd teen hulle span en die Spele- en Intreekursuslede se span ’n hittete stryd tot aan die einde was. Almal het teësinnig die skeie weggepak na ’n heerlike vriendskaplike wedstryd met die tuisspan as die wenners van die eerste (en enigste) skof voor hulle moes vertrek. Hopelik sien ons hulle ook weer volgende jaar.
Met die kursusaand is daar altyd groot opwinding met meeste van die kursusgroepe wat aan nagmarse in die veld deelneem, maar hierdie jaar se ekstra opwinding was van ’n ander aard. Hoëveld het sommer vroegaand al ’n egte hoëveldse donderstorm met elektriese weerlig-vertoning beleef. So het die meeste van die nagmarse uitgereën, maar die kinders het ’n bonusfliekaand in die saal in ruil daarvoor gekry. Veldbewustheid, buite in die veld, was gelukkig en het net ’n gedeelte van die storm gekry. Niks wat ’n seil of twee nie kon keer om hulle droog te hou nie en later het hulle ’n pragtige aand in die veld beleef. Die Volwasse Intreekursuslede het saam met hulle om die kampvuur gekuier en daar is tot duskant middernag heerlik gesing, en al die offisiere se Voortrekkerkinderdae is herleef met ou bekende liedere, toe die kinders groepie vir groepie begin stilraak.
Dag drie op Hoëveld het ook vir sy eie opwinding gesorg! Gelukkig is daar voorsiening gemaak en ’n hele dag sonder elektrisiteit was nie eens iets om oor ’n wenkbrou te lig of ’n oog van die kursusleier en aanbieders se vertelling af weg te lok nie. Elke Voortrekker hét mos ook ’n flitslig vir die donker ure by die kampe. Die dag was dalk sonder elektrisiteit, maar beslis nie sonder krag of impak gewees nie. Na die jaarlikse Hoëveld Kaskenades het die “Kaapse Klopse” heerlik gesellig by die Medemens-ete met kerslig gekuier. En, gelukkig was ons area se kragvoorsieners betyds om die probleem uit te sorteer dat die res van die kamp die veldfliek se vertoning sonder die verafgeluide van ’n kragopwekker kon geniet. Touwerk het toe darem ook kans gekry vir hulle nagmars en ’n vinnige veldfliek agterna en Spoorsny se gebruiklike nagmars was weer heel interessant soos altyd.
Na al die opwinding van die kamp sover, was Saterdag amper ’n rustige dag van heerlike kursuswerk en praktiese uitvoering van alles wat hulle tot dusver geleer het. Die Volwasse Intreekursuslede het geleer hoe die knope by seremonies toegepas word en sommige is heerlik geterg oor hulle oulike hasies wat hulle vir ’n handwerkartikel gemaak het. Wallie was so ingenome met die nuwe maatjies op die kamp dat hy sommer dadelik daar gaan kuier het. Vasbyt het oom Philip lekker rondgejaag vir ’n “modder-groepsdrukkie” toe hulle van die hindernisbaan af terugkom en almal het hulle kampvuuritems begin afrond vir die aand se kampvuurkonsert.
Die kampvuurkonsert is afgeskop met ’n besondere aansteekseremonie waar elke kursusgroep op die kamp se naam uitgeroep is. Dit het ’n heerlike atmosfeer geskep vir die onderskeie items wat deur elke kursusgroep gelewer is, wat elke jaar net beter word! Dit was ’n genotvolle aand wat afgesluit is deur die Medemens-kursusgroep. Daar is min ander liedere wat soveel van ’n diepe betekenis aan ’n afsluiting om ’n kampvuur kan bring as die “Onse Vader”. Die res van die kamp het lekker gaan inkruip na ’n opwindende dag terwyl die graad 7’s die saal aan die brand gedans het met hulle gebruiklike sokkie na die kampvuurkonsert.
Die laaste dag het verbygesnel na die erediens deur oom David Scribante waar hy weereens aangesluit het by oom Philip se boodskap by die kampopening – ons moet God se roepstem antwoord met ’n bereidwillige “hier is ek” en hard werk daaraan om ons drome te kan uitleef. Hoëveld het elkeen se drome hierdie jaar aangevuur sodat ons na al die hard werk, leer, pret en plesier en daarna opruim en oppak, weer kan verder droom waar ons terug by ons daaglikse bedrywighede is.
Dra die vlam in julle harte om julle drome weer aan te wakker. Sien julle weer by Hoëveld 2020 se 40ste jaar se feeskamp waar die vorige jare se kamptemavaandels gaan wapper om julle terug te verwelkom na waar kinders weer in die natuur kan leer speel en drome droom om ’n Voortrekkervuur.
Besoek gerus https://www.facebook.com/hoeveld vir nog foto’s.