Een aand in ’n woonstel op Witvinger
deur Janie van Heerden
Lunsklip is vanjaar 58 jaar oud en die oudste Voortrekkerkamp wat jaarliks op dieselfde terrein plaasvind. Boonop spog die kamp met ’n besondere Verkennergroep wat reeds vir 55 jaar ’n unieke veldervaring in ’n natuurreservaat het. Die Buitegroep (BG), is ’n groep Matriekverkenners wat sonder volwasse toesig, sonder tente, slaapsakke of kos deur die veld stap, daar slaap, veldkos soek en avontuuraktiwiteite doen. Vanjaar is hierdie unieke ervaring, onbepland, na die volgende vlak geneem.
Op dag twee is die meisies en seuns na ’n raaiselleidraad geskei en vir die aand in verskillende windrigtings gestuur. Die seuns het besluit om nié die kraaivliegpad te volg nie maar die tweespoorpad. Hulle het na 15 km hulle bestemming by die windpomp bereik, wat sowat 5 km van hul beginpunt af was. Die meisies het, soos amper elke ander BG, die kortpad saam met die kraai gekies. Hulle is toe vinnig berg-op om die sakkende son van ’n hoogte by hul eindbestemming te vang. Bo-op ’n berg, vertel die GPS toe dat hulle die veel laer koppie (Grootklip) net noordoos vandaar moes bereik. (“BG is nie paadjies nie, dis (GPS) punte”). Hulle klouter toe teen ’n 2 m- kranshang af en al ses gly op hulle agterstewes teen ’n paar skuinstes af. Deur alles word daar aangemoedig en moed ingepraat om die groot spronge te neem. Op die een lysie het die voorste meisie terug laat weet … daar is nie nog ’n veilige lysie om heen te gly nie … net ’n baie hoë steilte. Af. Terug kan hulle ook nie, want dis nie dieselfde om OP te klouter waar jy so pas op jou blaker AF-geseil het nie.
Hulle bevind hulle toe op ’n lysie, so groot soos twee staaltafels (omtrent 1 m X 5 m met die hoeke afgesny soos ’n halfmaan). Alle moontlike roetes word ondersoek, maar geen verdere afklim of -gly bestaan sonder dat dit ver af is grond toe nie. Dan is dit seker nou die geleentheid om die noodselfoon uit die rugsak te haal en die BG-offisiere in die kamp te bel. Waar hulle in die tou staan vir aandete.
Na die noodoproep ry die vier BG-offisiere so vinnig hulle kan van Lunsklip (Percy Fyfe Natuurreservaat) die sowat 10 km na die Witvinger Natuurreservaat waar die Buitegroep op daardie stadium was. Die seuns was veilig by hulle punt volgens die raaisel, maar die dogters se noodoproep en GPS-koördinaat vertel ’n ander storie.
“Bravo Golf, Bravo Golf, Juliet Lima, berig oor – ons is nou naby aan julle koördinaat, maar wil hoor waar julle is. Ons gaan roep, en dan roep julle terug”
“BUI-TE-GROEP – groep – groep” weergalm ons uitroep teen die oorkantste koppie. Ons kan mekaar hoor. Dankie tog! Maar nog nie sien nie.
“Lima Juliet, meisies, kyk na die Suiderkruis en sê vir ons waar dit is van julle af.” “Hoe kan julle dit nie kry nie? Ek het dan eergisteraand weer vir julle gewys waar dit is!”
“Bravo Golf: Nig ons wéét hoe lyk die Suiderkruis, maar ons kan dit nie sien nie. Ons kan die Melkweg tot by Orion sien.” Dit beteken hulle sit teen die nóórdelike hang van die berg.
Vinnig klim die BG-offisiere die berg uit na waar hulle nou min of meer weet die BG-meisies is.
Bo gekom, begroet ses vriendelike glimlagte die offisiere van onder op ’n lysie af: “Naand Neef, naand Nig, ja dit ís mooi, maar julle moes dit in die daglig gesien het!” Die meisies is toe reeds paraat onder hulle seile vir as dit koud raak. Onthou BG is die week in die veld met slegs die klere aan hulle lywe en ’n paar seiltjies in ’n rugsak. Geen tente of slaapsakke nie. Hulle het later vertel dat daar reeds gehuil is, maar dat hulle, op die stadium wat die offisiere by hulle gekom het, weer okei was. Die offisiere soek toe afklimplek na die meisies toe, maar dis duidelik te glad vir klim. Hier gaan toue benodig word.
“Neef De Wet, gaan klim in daai anderkantste skeur af en kyk vir vastrapplek.” Toe hy met sy stewel voel-voel of die stomp veilig is vir trap, val die hele grys homp na benede. Dis duidelik – die offisiere kan nie sonder toue by die meisies uitkom nie. Boonop is dit nou al stikdonker, wat enige reddingspoging nog gevaarliker maak.
Die vier offisiere, op die lysie bo die dogters, is toe ook gestrand. Nie net kan hulle nie af na die meisies nie, maar dis nie veilig om enigsins in die donker iewers heen te beweeg nie. So beleef hulle toe weer eens Buitegroep vir die aand: sonder tent, sonder slaapsak en sonder kos. Maar met goeie geselskap, ’n waterbottelkussing onder die kop, ’n sterrehemel daar bo, ’n pragtige bloedmaan en sonsopkoms die oggend, was dit ’n BG-belewenis soos geen ander nie.
Die reddingspan van die kamp af was met daglig op die toneel. Toue word bo vasgemaak, neef Julian sak af en die ses dogters word glimlaggend, een vir een, in ’n harnas met ’n katrolstelsel na bo getrek. Dit was duidelik (soos!) daglig, dat dit nie anders sou kon nie. Al die offisiere en die ses BG-meisies was bitter dankbaar dat almal weer veilig was.
’n Nag in die Woonstel op Witvinger wat nie een van hulle ooit sal vergeet nie.
“Saam met trane, kom vertroue, en ek sal nie sê ek sal dit weer wil ervaar nie, maar dis een om te onthou en baie herinneringe saam met ’n ongelooflike groep meisies, is in die slegste omstandighede gemaak …” – Danica
“Die aand wat ons daar spandeer het, was een wat ek altyd na aan my hart sal hou, vanaf die oomblik wat ons daar aangekom het tot ons weer afgeklim het. Eerstens was die uitsig onbeskryflik mooi en die proses en uitdagings van die dag en hoe om bo op die berg te kom, het ons so sterk gemaak as ’n groep en die hele ervaring sal ek nooit vergeet nie. Belangrikste is wel iets wat altyd by my sal bly en dit is hoe ek die Skepping kon sien, voel en waardeer deur die aand; daar was so baie dinge wat emosioneel en geestelik vir my en die groep gebeur het wat ek nooit in woorde sal kan oordra nie. Die aand by die Woonstel op Witvinger is ’n aand wat so baie vir ons beteken en altyd ’n spesiale herinnering sal wees.” – Mischke
“Dit was seker die bangste wat ek al ooit in my lewe was. Om myself te laat beter voel, sou ek een liedjie sing wat my altyd veilig laat voel. Baie dankie vir ’n ongelooflike kamp, Nig. Ek sal dit nooit vergeet nie!” – Lena
“Ons het met ’n gebed in ons harte Orion bo ons en die beeldskone natuur voor ons God se teenwoordige hand eerstehands ervaar. Hy wat die rots onder ons sterk hou, Hy wat ons sterk hou.
Dit was ’n belewenis, een wat nooit vergete sal gaan nie, een wat ons vriende aan mekaar styf vas gebind het.” – Annje