Een klein tree vir Rhus Keeti – Een groot stap vir Die Voortrekkers!

’n Groot droom het die pas afgelope Aprilvakansie waar geword. ’n Nuwe Ruimteselfbehoud-avontuur het afgeskop waartydens 12 Verkenners hul selfbehoud in die Rhus Reveles (Rhus Keeti Ontdekker) met groot sukses voltooi het. Edwin le Grange, kursusleier van Ruimteselfbehoud en ook een van die kandidate  vir die “Mars One”-projek, het entoesiasties saam met sy span: Chris, David, Sandra en Corro, Suzette en Johan gewerk by RASA (Ruimtestasie op Aarde vir Selfbehoud Avontuur).

Terwyl daar deeglike voorbereiding vir die 12 Rhusknope (astronauts) gehou was, waartydens sielkundige en geestelike sessies aangebied is, is daar aan die ander kant harde bouwerk en flinkvernuf ingespan om die Rhus Reveles te bou en toe te rus vir die reis van 30 ure na Mars. Die grondpersoneel by Rhus Terra het ook hard gewerk om al die rekenaars, kameras en kabels wat kommunikasie tussen die Rhus Reveles en Rhus Terra moontlik sal maak, te installeer. Hulle was almal gereed vir die groot oomblik toe hul om presies 23:00 op 10 April 2017 gelanseer is.Wat ’n skouspelagtige lansering! Rook, ligte, toeskouers en van die ouers het met gemengde gevoelens gestaan en kyk hoe die bemanning van 12 met wit ruimtepakke een vir een die pendeltuig betree. Die spanindeling werk as volg: 4 lede elk slaap, beman elektroniese toerusting en oefen.

Sonder probleme was die tog egter nie. ’n Sonfakkel het al die elektroniese en elektriese toerusting buite werking geslaan.  Binne sekondes was die Rhusknope paraat en het flink  ruimtepakke  aangetrek en begin om die beskadigde tuig te herstel.  Rhus Terra het vir ’n tydperk  geen kommunikasie met Rhus Reveles gehad en daar was totale duisternis in die pendeltuig.  Rhus Terra moes vinnig innoverende aksies implementeer deur die gebruik van ’n outomatiese beheerstelsel,  wat die elektriese stelsel herstel en beperkte lig weer beskikbaar gestel het.  Geen kommunikasie en videobeeld-herleiding kon egter plaasvind nie en uit nood is die sekondêre kommunikasie en videobeeld geaktiveer.

Gedurende dié proses moes die Rhusknope die kommunikasiekabels ontkoppel waarna die outomatiese kommunikasiehulpmiddels die tweede stel kommunikasiekabels deurgevoer het na die Rhus Reveles.  Die Rhusknope was aanvanklik nie baie oplettend nie, en die kabel  wat gekoppel moes word, is nie raakgesien nie.  Die irriterende alarm het aanhou “bliep” .  Dit was eers na etlike sekondes wat hulle besef het dat die bliep-geluid aandui dat die kommunikasiekabel nog nie aanvaar is nie.  Die kabel is  gevat en gekoppel en die bliepmasjien (met ’n seer keel) was stil …

Op 12 April 2017 om presies 02:00 GMT het die Rhus Reveles kontak gemaak met die oppervlakte van Mars.  Rhusknope het in spanne van vier uitgegaan om die habitat op te rig.  Boumateriaal uit vorige onbemande sendings is gebruik.  Vir die buiteruimtelike aktiwiteite of BRA, is daar slegs 30 minute toegelaat.  Streng werkskedules is gevolg om soveel as moontlik inligting vanaf Mars in te samel.

Verskeie verslae, en mediese terugvoer van elke Rhusknoop moes op gereelde basis gestuur word.  Hierdie inligting is deur die span kundiges gemonitor om te verseker dat die Rhusknope se welstand en gesondheid na wense is.

Daar was ongelukkig ’n OLW (onverwagte lewendige wese) by die habitat. Die konneksiepunte is  vernietig en moet deur die Rhus Terra-span vervang word.  Hierdie proses sal egter ’n jaar duur om ’n nuwe span Rhusknope op te lei wat nog ’n besending na Mars kan neem.  Die laaste kommunikasie vanaf die Rhus Terra aan Rhus Reveles was …

“Dit was ’n voorreg om saam met julle te werk. Tot ons weer kommunikasie het … oor ’n jaar … Rhus Terra uit.”

Deur: Esther Visser