Eerste ervaring op Swartvlei

deur Seugnet van Zyl

“Wat ’n belewenis! Elke Voortrekkermaatjie wat nog nie by die Swartvlei Seekamp was nie, moet nou al hulle tasse pak vir volgende jaar se kamp. As jy nie ’n Voortrekker is nie, word nou ’n Voortrekker. Kom beleef dit self, dit is wraggies iets om te beleef!”

So vertel Samantha Müller, kommandoleier van die splinternuwe Kanniedood Kommando, van die heel eerste Voortrekkerkamp wat sy en 10 Voortrekkers in dié kommando bygewoon het.

“Swartvlei Seekamp! Woorde kan nie die ervaring beskryf nie! ’n Mens moet self hier wees om te verstaan hoe Voortrekker-lekkerrr dit is! Swartvlei ek het jou lief met my hele hart, Swartvlei ek het jou lief met my hele hart.
Lief, lief, baie lief met my hele hart. Lief, lief, baie lief met my hele hart!”

Swartvlei Seekamp word aangebied deur Transvaal Voortrekkers vir Penkoppe en Drawwertjies en vind plaas langs die Swartvleimeer naby Sedgefield in die Suid-Kaap. Die kamp vind elke jaar plaas gedurende die eerste week van die winterskoolvakansie.

Sy sê die pret het al op die 20-ure lange busrit van Pretoria na Sedgefield begin. By die kamp is hulle deur ooms en tannies met ope arms, vlaggies en fluitjies ontvang.

“Dan is daar die heerlike kampkos! Ons het sommer lekkerder by die kamp as by die huis geëet! Mense, ek praat van geregte met hoender, varkvleis, groente, pasta en selfs POEDING!”

Dié kamp is ’n geleentheid vir die hele gesin om saam vakansie te hou by Die Voortrekkers en iets nuut te leer van die see asook die omgewing. Daar word elke dag op die strand gespeel en in die see geswem, terwyl die Penkoppe en Drawwertjies nuwe vaardighede aanleer. Elke groep op die kamp kry die geleentheid om op ’n uitstappie in die omgewing te gaan en die ouer PD’s slaap een aand uit gedurende die kamp op baie besonderse plekke.

“Dan is daar die see, die groot see met sy yskoue water en sagte seesandstrand! Die plekkie waar ons dit die meeste geniet het. Ons het elke dag in die see geswem en gespeel. Ons het gelag, ons het gestap, ons het geroomys, ONS HET DIT GENIET!!!”

Vaardighede wat by Swartvlei aangebied word is: Seepret vir graad 1’s, See-Waarneming vir graad 2’s, See-Versamelkuns vir graad 3’s, Seekennis vir graad 4’s, See-Dierekennis vir graad 5’s, Kus-Ekosorg, Vleilande, Riviermondings en Staptogte vir graad 6’s en Strandbewustheid, Waterbewustheid en Afrikanerkind vir graad 7’s.

Verskeie van dié kentekens is eie aan die Swartvlei Seekamp en is spesifiek vir die kamp ontwikkel.