Glaskamp 2024 – Warm, maar lekker!
deur Louise Welgens
Wat ’n kamp! Dit was warm… Daar was donderweer en blitse, die natuur het as’t ware saam met die Glaskampers kom fees vier en dans tussen die sterre. Maar het die warm weer en gevaarlike blitse ons gekeer om weer die beste kamp ooit te hê? Natuurlik nie, ons is Voortrekkers – een maal ’n Glaskamper, altyd ’n Glaskamper! As dit warm was, het ons die sessies geskuif na die swembad – het julle al ooit 53 graad 7’s gesien sing in ’n swembad-maalkolk? Prettig! Het julle al volwassenes gesien lag en speel soos kinders rondom ’n swembad? Skreeusnaaks! Het julle al PD’s en verkenners gesien dans oor die grasperk terwyl hulle sing:
“O waar is my Dina, my Dina, my Dina
O waar is daai Dina, daai Dina van my?”
Epies, net een woord daarvoor.
Faf, Kuifie, Hop-Hop en Arthur het kom kuier die hele naweek en die kinders kon nie genoeg foto’s neem saam met hul helde nie. Faf en Kie. kuier altyd lekker saam op Glaskamp en geniet die aandag van die kinders terdeë! Maar dit is nie net die kinders wat die kamp so baie geniet nie, die volwassenes doen ook! Dit is ’n familiekamp en die ouers teken die datum al ’n jaar voor die tyd aan. Soos een pappa gesê het: “Die kamp is my af naweek, die naweek waar ek net kan ontspan en lekker kuier saam met ander volwassenes. Skryf my weer in vir volgende jaar!”
Alle Glaskampers weet daar is nie beter kos as oom Jannes s’n nie. Dit is om van liries te raak!!! En die kampvuurkonsert – daar is nie genoeg woorde om hierdie fantastiese belewenis te beskryf nie. Na die tyd word daar tot vroeg oggend om die vuur liedjies gesing onder kitaar-begeleiding. Die nostalgie gee my elke keer hoendervleis.
Maar waarvoor staan GLAS-kamp, vra almal altyd? Glaskamp (Grootste Liedere van Afrikaanse Sang) is ’n informele kamp wat fokus op pret en plesier – vir oud én jonk! Dit fokus op taal-, kuns- en kultuur spesialisasies soos o.a. Lekker Sing, Volkspele, Boeresport, Beeldende Kunste, Volksdans en Kampvuurkonsert, maar dit is nie al nie! Daar word reeds nuwe spesialisasies beplan en geskryf vir die toekoms soos Die Orkes, Lyndans, Die Digter en vele meer! Daar word ook beplan om volgende jaar weer kitaar en fotografie aan te bied vir die volwassenes. Glaskamp is altyd oop vir nuwe idees en voorstelle, hul entoesiasme is aansteeklik en die rede waarom dieselfde kinders en volwassenes jaar na jaar weer terugkeer.
So, vir Glaskamp 2025 – bring jou energie…
“O, Bring,
Bring jou mooiste drome
Bring jouself, jou liefdeswoorde”
(uit Bring jou Hart – Juanita du Plessis)