Graad 7 Avontuurkamp
Die Graad 7 Avontuurkamp te Doornkloof is verseker ’n hoogtepunt in elke Penkop en Drawwertjie se loopbaan en vanjaar was geen uitsondering nie. Met ’n goeie groei in getalle het almal aangemeld vir hierdie spesiale geleentheid.
Met die kinders se aankoms by die kamp moes hulle self hul verblyfplek vir die week inrig. ’n Skuiling wat alle weersomstandighede kan trotseer, moes gebou word. Nogal ’n uitdagende taak vir sommiges.
So ook, is die verskillende ontwikkelingsbane waar die kinders hul eie grense kon bepaal en deur middel van spanwerk hul eie ontwikkeling bevorder, onder die bekwame leiding van ’n span entoesiastiese offisiere.
Veldvernuf, waar die kinders kon leer om die veld soos ’n koerant te lees, en vermom en bekruip is van die ander aktiwiteite wat die program ingesluit het.
Die roetemars, genaamd Operasie Suiderkruis is altyd ’n hoogtepunt, want dan kry die kinders droë rantsoene vir die dag en moet hulle die plaas deurkruis om die verskillende leidrade te kry.
Ander hoogtepunte sluit in ’n “vyfgangmaaltyd” waar elke lid van die span iets “anders as die normale” moes eet. Die Suiderkruis Olimpiese spele het gesorg vir groot opwinding en die kamp op ’n hoogtepunt afgesluit.
Volgens die kinders was dit een van die lekkerste kampe wat hulle nog bygewoon het. ’n Span uitstekende offisiere sorg verseker dat hierdie kamp elke jaar vir die kinders ’n hoogtepunt is.
deur Corlia Botha