Graaff-Reinet – ‘n Groot bederf vir vanjaar PV’s!
deur Francis Hitchinson
Met die PV-Afrondingsgeleentheid te Graaff-Reinet het ons kandidate die geleentheid gehad om te wys wat in hulle steek. Van die uitkomste wat die kandidaat aan moes voldoen is: Kulturele vaardighede, asook Omgewingsvaardighede en met die pragtige Graaff-Reinet as speelgrond, het ons dit goedgedink om die twee aktiwiteite te kombineer.
Graaff-Reinet, wat ryk is aan ons Afrikanerkultuur en -geskiedenis, bied ‘n fasinerende blik op ons verlede en bied landmerke aan wat na aan ons Afrikaner mense se harte lê. En dit was daarom net logies dat ons van hierdie geleentheid gebruik moet maak om die dorp te verken.
Ons sessie het afgeskop met ’n baie interessante lesing deur Graaff-Reinet se eie geskiedkundige, oom Johan Minnaar – wat net wil bekend staan as ’n inwoner van die dorp. Hy het vir ons die geskiedenis van die dorp vertel en leidrade gelos vir die “dagmars” wat daarna sou volg… Hy het gedeel hoe die dorp eers net uit ‘n klomp rampokkers bestaan het, waar die dorp sy naam vandaan gekry het (die goewerneur van die Kaap, Cornelis Jacob van de Graaff, en sy vrou, Reinet), tot stories van ons geskiedenis se groot leiers – Andrie Pretorius. Alles en nog meer…
Daarna het ons (tien spanne) uitgevaar in die dorp en na die skatte begin gesoek waarna in die praatjie verwys was. Van die Reinet-Huis, wat eers die pastorie van die dorp was, tot die Drostdy Hotel, wat eers die magsitraatskantore was – seker ’n gepas vir ’n gebou wat rampokkers in toom moes hou. Van die Groot Kerk, wat die enigste kerk in Suid-Afrika is wat ’n kaggel in sy konsistorie het, tot die derde oudstste klub in ons land, waar die kroegtoonbank vol gate geskiet is deur ’n klomp kakies… Natuurlik was die skool, waar Japie Heese sy eerste spanbyeenkoms gehou het, ook ingesluit by die verkenning van hierdie merkwaardige dorp.
Graaff-Reinet is voorwaar ’n groot skat wat wag om verken te word. Dit is beslis ’n besoek werd!