Hoe om jou Voortrekkerkommando te laat groei in ’n neutedop

Dwarsdeur die land is daar baie Voortrekkerkommando’s wat groei. Alhoewel elke kommando of veldkornetskap se situasie en gemeenskap verskillend is, is daar sekere dinge wat groeiende kommando’s in gemeen het. As Voortrekkers geniet ons lysies wat ons kan deurwerk om seker te maak ons het alles gedoen wat ons kon. Die probleem hiermee is dat lysies van wat jy kan doen vir groei baie lank kan word en tot baie ekstra werk kan lei.

Definieer groei reg

Ons verwar dikwels nuwe lede werf en bemarkingsprojekte met groei. Groei het twee aspekte: die persoonlike groei van jeug- en volwasse lede, asook die groei in ledegetalle. Ledegetalle het ook twee komponente: lede wat herregistreer en nuwe lede.  Dit is belangrik om hierdie onderskeid te tref omdat die maklikste komponent van ledegetalle groei is om seker te maak jou bestaande lede herregistreer.

Behou bestaande lede

Om bestaande lede te behou, is maklik as jou span- en jaarprogramme interessant en gebalanseerd is en beide jeug- en volwasse lede geleentheid kry tot persoonlike groei volgens behoefte. ’n Belangrike element is egter ook om seker te maak volwasse lede word nie oorlaai nie.

Oorlaaide volwassenes maak dit moeiliker om ander volwassenes te oortuig om die leisels of spanne op te neem. Dis nog ’n groter slag wanneer volwassenes weens omstandighede nie kan voortgaan met hulle spanne nie. Vul dus die volwasse lede aan met heemrade en jeugvriende wat verantwoordelikhede van spanoffisiere kan wegvat sodat hulle met die kinders kan werk. Hierdie volwassenes word na ’n paar jaar ook ’n bron van nuwe offisiere.

Maak seker dat offisiere opgelei en bemagtig word en verskaf ’n mentor aan elke nuwe spanoffisier. Kommando’s wat konstant groei, het almal ’n groot fokus op die spangees onder volwasse lede.

Hulle het ook almal planne in plek vir volgende jaar se Graad 1/0-spanne.

Ons kan die “behoud van lede” dus opsom as die bedryf van goeie Voortrekkers. Beplan gebalanseerde jaarprogramme (wat is wat ouers en lede koop) en voer dit uit onder toesig van die kommandobestuur.

Bemarking

Die beeld van Die Voortrekkers in die gemeenskap word bepaal deur wat die gemeenskap sien van Die Voortrekkers en wat hulle dink Die Voortrekkers doen. Dit bepaal nie net die persepsie wat die gemeenskap van die beweging het nie, maar ook hoe die gemeenskap die lede sien. Die maklikste manier is om dus vir die gemeenskap te wys wat Voortrekkers doen. Spanjoernale het gewoonlik massas foto’s van Voortrekkeraktiwiteite. Bou dit om in video’s en maak seker dat dit in die skole, by opedae en enige moontlike geleentheid (ook Voortrekkeraktiwiteite) vertoon word. Beide ouers en kinders moet so geteiken word en hoe meer nie-Voortrekkers dit sien, hoe beter.
Projekte soos fondsinsamelings en gemeenskapsprojekte (wat deel van die jaarprogram vorm) is nog geleenthede waar die gemeenskap sien wat Voortrekkers doen en die korrekte beeld kan vestig. Maak seker Die Voortrekkers is sigbaar deur baniere en Voortrekkerdrag.
Bemarking is dus nie net noodsaaklik vir groei nie, maar ook vir die behoud van lede. As die hele skool weet wat Voortrekkers doen, het hulle baie meer respek vir die lede. Beeldvorming hoef ook nie afsonderlike los projekte te wees nie, maar is bloot kontak in die gemeenskap met materiaal wat wys wat ons doen.

Netwerk

Om die gemeenskap se goeie trou te behou, is dit uiters noodsaaklik dat die kommando goeie skakeling met die skole, kerke en ander instansies in die omgewing bou en in stand hou. Dit behoort ’n besprekingspunt te vorm van kommandodagbestuursvergaderings.
Hierdie skakels is ’n tweerigtingskakeling. Help die skole, kerke en instansies en bied hulp aan deur boeresport of kampe vir hulle aan te bied. Probeer hulle behoeftes integreer met dit wat jou kommando in elk geval doen of baie maklik in hulle slaap kan doen. Skole en kerke het dikwels nie genoeg kennis of ervaring om kampe aan te bied nie.

Ledewerwing

Ledewerwing is nie primêr gerig op groei nie. Ledewerwing is nodig om te keer dat ’n kommando kwyn. Weens die aard van ’n jeugbeweging, verloor kommando’s wat baie goeie Voortrekkers bedryf, 18% van hulle bestaande lede elke jaar. As mense een keer in tien jaar verhuis, behoort jy klaar 10% van jou lede elke jaar te verloor en dan is daar matrikulante wat meestal die kommando verlaat (nie noodwendig Die Voortrekkers nie). Die meeste kommando’s verloor jaarliks meer as 25% van hul bestaande lede. Om hierdie verlies aan lede op te maak, moet die kommando ’n werwingsaksie neem wat daarop gemik is om in elke graadgroep 10% nuwe lede te werf, asook om Graad 1-lede in massas te werf. Gewoonlik kan aansienlik meer as 10% groei tot en met Graad 5 maklik bewerkstellig word.
Doen hierdie veldtog vroeg in Januarie (nes die skool oopmaak) en laat dit saamval met die vertoon van video’s by skole.

Verander

Die meeste kommando’s bereik ’n plafon waar die kommandobestuur se weiering om te verander, die plafon bepaal. As jy aanhou dink in terme van een span per graad, gaan jy by 70 of 80 lede ’n plafon slaan. As jy vassteek by een span per geslag per graad, gaan die plafon by ongeveer 140 tot 170 lede wees. As jy vassteek by die feit dat alle spanne kom op dieselfde tyd by dieselfde plek bymekaar, gaan jy nog ’n plafon slaan. Die groter kommando’s het 4 tot 7 spanne per graad waarvan sommiges enkelgeslag en sommiges gemengde spanne is, en hulle kom bymekaar op ’n tyd en plek wat die span en die offisier pas. Dit beteken dat meer kinders en volwassenes geakkommodeer kan word.
Omstandighede tussen kommando’s verskil drasties en daar kan nie eenvoudige riglyne gegee word nie, maar kommandobesture behoort jaarliks te kyk of dit nodig geword het om enige iets wat “ons nog altyd so gedoen het” onder die vergrootglas te plaas.

Waarom groei?

Hierdie is seker die belangrikste vraag wat eerste gevra moes word. Die antwoord hierop is eenvoudig: Om soos Jabes Die Voortrekkers se grondgebied te laat uitbrei. Ons wil die groei in kinders wat Voortrekkers aan kinders bied, aan elke kind wat nog nie ’n Voortrekker is nie, bied. Om dit reg te kry, moet ons die kind en die ouers oortuig om die geleentheid te gebruik.

Deur: Freek Eek