Hoëveld 2018 se besonderse Paasnaweek
Teen die tyd wat die son die eerste stofwolke op die grondpad begin vaspen het, het Hartbeesfontein al gewoeker en gewerskaf om ou bekendes én nuwe vriende ewe opgewonde te verwelkom onder die vaandels wat die temas van die vorige 5 jaar uitbasuin. Paasnaweek met ’n bonus-daggie het aangebreek! Dit was tyd vir Hoëveld PD Kamp 2018.
Die bykans 580 kampers het met die gewone fanfare simbolies die Hoëveld vlam teruggebring vanaf die kommando’s met die opening onder die wakende teenwoordigheid van die Landsvlag, Vootrekkervlag, Afrika-Unievlag, Transvaalse Gebiedsvlag en Hoëveld 2018 se kampvlag.
Hoëveld se tema het hierdie jaar vir ons die C in ons ABC onderskryf met die Paastema. Oom David Scribante het ook met Vrydagoggend se erediens ons duidelik daaraan herinner dat ons nie mekaar blindelings hoef te volg nie, maar eerder ons oë op Christus moet hou, die Een wat gekies het om vir ons te sterf! Arme oom Philip was amper aan sy neus rondgelei deur ’n geblinddoekte tannie Jaconette. Gelukkig het Eddie van Spele hulle gered!
Daarna het 2 volwassenes, Braam van der Spuy en Arno Jacobs, elkeen ’n Besondere Diens Medalje Gebied (Silwer) ontvang vanaf die Transvaalse Gebiedsleier, Zandra Machin. Transvaal se AGL PD Sake, Anine Wheeler, het ook vir ’n vinnige kuier kom inloer.
Hoëveld het vanjaar ’n geskiedkundige Volwasse kursus aangebied – die Intreekursus of Kursus 1 – vir die eerste keer in die 38 jaar van die kamp. Daar het ’n rekord getal volwassenes saam gekamp (170) en dus was hierdie ’n geleentheid vir ouers om die Voortrekkers te leer ken en volwasse lede om ’n formele kursus te kan doen. Tannie Jaconette het die 8 kursuslede teen ’n drafstap deur die kamp gelei tussendeur hul lesings na elke PD-kursus wat aangebied is, om saam met die kinders te leer veldkookstofies maak, handwerk hasies maak, fluitseine ontsyfer, vlagpaalknope verstaan, en soveel meer. Tannie Zandra het vir hulle ook ’n tydjie ingeruim om ’n aanbieding by die kursus te gaan doen en 6 ander kampers het ook hul opwagting gemaak as aanbieders met ’n oomblik se uitglip by hulle eie kursusse. Een van die hoogtepunte van die kursus was die kampvuurkuier by die Veldbewustheid kursus en om in die veld te slaap onder die sterre. Maar met hulle kursusskattejag het Plantekennis, die Kleuters, Spele en Handwerk hulle lekker hard laat werk vir hulle leidrade en skat, en lekker gelag vir die lawwe mannewales van die Intreekursuslede. Hulle kampvuuritem het ook heelwat ‘klankondersteuning’ uitgelok met hulle
“Ligte … Kamera … Aksie”.
Beide Medemens en Touwerk het weer rekord getalle inskrywings vir die kamp gehad en so ook Veldkook waar oom Wouter en sy handlangers bontgestaan het om die lekker groot groep te laat ’kook’. Die Graad 4’s is vanjaar seker steeds op Paasnaweek, want hulle was maar skaars op die kamp of was hulle dalk by die klein skare Plantekenners aan die onderkant van die kamp? Húlle moes noodgedwonge vir oom Paul afstaan aan Veldbewustheid toe hulle ook graag sy spesialis veldkennis vir hulle lesings benodig het.
By Veldbewustheid was Donderdagaand se slangelesing soos altyd ’n groot hoogtepunt en al is hulle almal bang, is dit ’n belewenis om aan ’n luislang te kan raak en ander gevaarlike slange so van naderby te kan sien.
Die weer het hierdie jaar weer lekker saamgespeel en die paar los buitjies het net die hitte so ’n bietjie gebreek. Dit was dus ’n heerlike warm en droë kamp, al het hulle sommer baie reën vooraf voorspel. Die Weerkennis se weerman was sommer lekker deurmekaar met hierdie anderste weer. Spoorkennis se skuilings was so ’n bietjie ‘waterig’ gewees as gevolg daarvan, maar die Intreekursus het die reëls so bietjie gebuig en was lekker droog onder hulle ‘gazebo’-skuiling.
Oom Philip en Wallie het ’n paar kopskudde gekry omdat hulle vir ’n groot opskudding in die kamp gesorg het. Hulle het vir kommunikasie se Vlam Nuus gesê het dat die hele kamp hulle skoene moet opgee en kaalvoet huis toe stap na die kamp sodat hulle ook kan voel hoe Christus gevoel het met sy tog na Golgota toe vir die kruising. Daar kom toe een of ander Russiese skakel ook in die gedrang, maar na Wallie gesien het hoe hartseer die kinders was oor hulle geliefkoosde skoene het hy vir oom Philip gesê om die “k” uit Skoene op die sleepwa se naambordjie te gaan haal en met die woord “soene” dus die boodskap uit te dra dat ons eerder liefde aan mekaar moet gee as pyn!
Met die Medemensete Saterdagaand is almal herinner aan Christus se groot opoffering om vir ons sonde aan die kruis te sterf met die paasspel en Bybelse ete. Die ete was baie spesiaal en roerend met dié dat elke Medemenskind se voete gewas is deur hulle volwasse gas met hulle aankoms – net soos Jesus sy dissipels se voete gewas het.
Met Sondag se erediens het ds. Elmien ons ook herinner dat Paasfees nie werklik oor die paashaas en sy paaseiers is nie, maar sy het vir ons die belangrike groet geleer: “Ja, Christus het waarlik opgestaan!” Gelukkig het die “Paashaas” nie die kamp besoek nie, maar eerder die “Dapper Muis”, en het hy seker baie mooi tandjies gekry wat nie bederf is deur te veel soetigheid nie, al was die snoepie baie gewild soos elke jaar.
Die 1ste April se gekskeerdag was natuurlik ’n dag van vele pret en poetse bak op die kamp! Die hele naweek het tannie Melanie Mienie en haar span die heerlikste kos voorgesit wat deur groot en klein geniet is, maar Sondagoggend het hulle gesê hulle is nou moeg gekook en ons kry net “bokspap”… Dit was glad nie gewild nie en menigte gesiggie was verstom oor die ‘droë’ pap en stroop wat te voorskyn gekom het, maar almal het agterna lekker gelag toe hulle besef hulle was April-gekke (“fools”). Hulle was sommer dadelik vergewe na die heerlike ontbyt wat toe regtig voorgesit is.
Die laaste aand se briljante kampvuurkonsert is afgeskop met Veldbewustheid se aansteekseremonie om dit te open met ’n vuur wat sekerlik van die ruimtestasie af gesien sou kon word. Elke item deur die kursusse was fenomenaal en baie oulik saamgestel en is pragtig afgesluit met die Medemenskursus se Paasspel sodat die res van die kamp ook die mooi storie kon aanhoor. Die Onse Vader gebed as afsluiting het nog nooit voorheen soveel emosie ontlok en hartsnare geroer nie.
Na ’n besondere Paasfees-viering gaan Hoëveld 2018 se kampers die jaar in met vreugde in hul harte oor al die wonderlike dinge wat hulle hier ervaar het. Dra Hoëveld se vlam met trots vorentoe na julle Kommando’s en hou julle oë op Christus om julle pad te verlig dat dit julle hopelik weer na Hoëveld kan lei in 2019!
deur Jaconette de Kock