Hoëveld PD-kamp vier fees! Ons is uiteindelik 40!

deur Jaconette de Kock

Die Aprilvakansie is hier! Kinderstemme begin uitrys en weerklink oor die kampterrein.

Ja, uiteindelik hoor mens weer kinderlaggies op Hartbeesfontein na ’n jaar van “droogte”! Dis net ’n ligte eggo van al die kinderstemme wat al hier opgeklink het, maar hierdie soete klanke blaas weer lewe in ons Voortrekkerplaas.

Dit is Hoëveld PD-kamp se VEERTIGste kamp vanjaar! Dis ’n bittersoete fees, want daar is ’n “gaping” in ons kampjare met die pandemie wat die feeskamp in 2020 laat verdwyn het soos vroegoggend mis voor die son en dit vooruit gedruk het na 2021. Steeds is ons getalle ook nog beperk en die geëerde gaste van weleer kan slegs in gees en herinnering die feestelikheid meemaak. Maar dit demp nie die geesdrif van die 2021-kampers nie! Ons het ou tradisies herleef, nuwe tradisies geskep en kon die lekkerste afstandpartytjie saam in die onderskeie groepe geniet.

Die kursusse is in ses groepe ingedeel en die aantreeplekke was versprei om die seremoniegronde tydens die etes en ander grootgroepgeleenthede. Die opskepbeurte het dus gelei na heerlike lagtye waar die wagtyd verwyl is met allerhande prettighede in die groepe en waarna hulle na die opskeprye ge“wals”, ge“swem”, ge“dril”, ge“pie-po” het en talle ander kreatiewe maniere, wat uiteindelik soos ’n kompetisie geword het tussen die groepe met elke ete. Die seremonies was ook aangepas om te funksioneer met die aparte groepe, maar almal kon steeds deelneem daaraan, wat dit elke keer soos ’n nuwe moderne tipe seremonie laat voel het.

Die hindernisbaan was nog altyd ’n uitdaging vir groot en klein en omtrent elke kursus kry ’n geleentheid om hulle vaardigheid daar te gaan uittoets. Terwyl die Plantekennis-kursus die toubrug gaan uittoets het, het die Vasbyt-kursus hulle rondte daardeur afgesluit met ’n heerlike modderbad!

Die Kleuter-, Spele- & Veldkook-kursusgroep het speel-speel om die vuur gedartel en lekkernye oral uitgedeel om die soet- en souttande te bederf. Noodhulp het wyd en syd gespog met hulle “wonde” en “breuke”. Handwerk se spaarvarkies (let wel nié hasies nie!) het goed gevorder ten spyte van die koue weer deur die aande. Touwerk se vingers het beslis nie geknoei nie en Weerkennis se weervoorpellings was ’n besondere uitdaging met hierdie kamp.

Veldbewustheid het ook weer ’n aand in die veld gaan oorslaap, maar is vroegoggend uit die slaapsakke teruggespoel kamp toe tydens ’n heerlike ysige reënbui. So was Spoorsny se nagmars ook met een aand uitgestel as gevolg van onbeplande weersomstandighede, maar uiteindelik het hulle die spoor suksesvol terug kon volg kamp toe op die daaropvolgende pragtige aand.

Die tradisionele inlêfliek kon ongelukkig nie weer op die seremoniegrond gehou word nie as gevolg van welkome reëns, maar die drie binne-lokale het nie die avontuur-aspek daarvan bederf nie. In die saal het die Medemens-kursus die volwassenes onthaal met ’n Paasfeestema en eiesoortige Bybelse ete en vir almal was dit ’n sielsverrykende ervaring.

So ook moes die kampvuurkonsert, wat ook al ’n kamptradisie is, na die saal verskuif danksy ’n heerlike koue aand en die gewone warm kampvuur is vervang met ’n elektroniese replika wat steeds elke kursustoneel op ’n nuwe manier verlig het. Die Kleuters, Spele- & Veldkook-kursusgroep se opvoering was soos altyd baie gewild en die Sterrekunde-kursus se planete-voorstelling was ’n onverwagte verrassing wat almal vasgenael geboei het om die volgende planeet se “ligging” en afstand te kan identifiseer. Vasbyt was besig soos altyd en het energiek gedemonstreer wat hulle twee kursusoffisiere oor die kursus gesing het en oom Philip en oom Braam het hulle rolle as Hoëveld-bome tydens die Veldbewustheid-opvoering, uitmuntend uitgevoer. Die Medemens-kursus het ’n gevoelvolle groepsvertolking van “Die Houtkruis” gelewer om die kampvuurkonsert mee af te sluit.

Die kombuis het buiten al die heerlike etes tydens die kamp, verras met pragtige verjaarsdagkoeke en kolwyntjies en ander lekkernye vir elke groep vir die partytjie en die musiek“fabriek” het feestelike musiek uitgebasuin soos ’n hartklop van vreugde en plesierigheid oor die kamp. In die middel van die seremoniegrond het die kampleier, oom Philip, en Wallie die kampfakkel omgestuur in die kampraad se sirkel, omring deur die ander volwasse kampers om aan die gebiedsleier, Zandra Machin, in tipiese oom Braam-styl oorhandig te word om die Hoëveld-feesfakkel aan te steek om ten minste nóg 40 jaar ’n baken te wees vir Voortrekkerkinders. Daarna het almal vir Hoëveld-kamp “Lekker verjaar” gesing en die feestelike partytjie is afgeskop, gevolg deur die gebruiklike Hoëveld-kaskenades.

Die opwinding en partytjiegees kon aangevoel word dwarsdeur die kamp en ons kamp-pappa se nuwe variasie van “Rol die Wiele” was soos ’n kersie op die koek gewees!

Sondagoggend se kerkdiens deur ds. Lourens was ’n pragtige boodskap in lyn met die kamp se tema “Glo en Dien God Drie-enig” en daarna het die gebiedsleier die hoofleier se toekenning vir Hoëveld-kamp se 40ste bestaansjaar aan oom Philip oorhandig.

Wat ’n feeskamp! Ons hoop dat Voortrekkers binnekort weer volsterkte kan gaan kamp regoor die land en dat ons sommer elke kamp soos ’n feeskamp kan geniet! Waar Hoëveld 2021 afgeskop het met die rustige gekabbel van stemme, het die 40ste Hoëveld-kamp afgesluit met die oorhandiging van die fakkels aan die kommando’s om die kamp se lig weer uit te dra op die vleuels van die magtige dreuning van al die kinderstemme wat uit volle bors met oorgawe saamsing.