Hoëveld vat HIER vlam

Die Hoëveld PD-kampers het weer hierdie jaar bewys dat Voortrekkers KAN vlam vat HIER by Hartbeesfontein!

Saterdagoggend 8 April 2017 is elke nuwe en ou bekende kamper verwelkomend gegroet deur die Kampraad met die wapperende vaandels van die afgelope vyf jaar se embleme en leuses bokant die hoofgebou.

Met die opening is die Kampleier, oom Philip de Kock, verras deur die Volwassenes wat vir hom voor in die saal kom sing het met sy verjaarsdag saam met die amper 400 kinders en het hy sommer drie verjaarsdagpartytjies gehad deur die dag! Hy het toe almal verras met heerlike verjaarsdagkoek vóór aandete! By die aandprogram, “So jy dink jy kan dans?” het die kinders vir hom ’n erewag gevorm van agter in die saal, terwyl die aanbieders vir hom ’n “Oom Philip ‘rap’ ” gedoen het.

Sondag het tannie Lize Lang vir Hoëveld die erediens aangebied en kom vertel van mense in die Bybel wat ’n verskil kon maak – manne en vroue wat KAN. Daarna het vier volwassenes elkeen ’n Besondere Diens Medalje Gebied (Silwer) ontvang vanaf die Transvaalse Gebiedsbesoekers, Freek Eek en Elsa Schnetler.

Beide Kommunikasie en Medemens het rekord getalle inskrywings vir die kamp gehad waar Veldkook se handjie vol ge‘kook’ het ten spyte van hulle klein groepie. Hulle was báie gewild toe hulle stokbrood vir almal uitgedeel het om te proe.

Die Vasbyters het ’n nuwe rekord opgestel toe hulle oom Cobus se bakkie oor die veld gesleep het en die bakkie hulle nie kon terugtrek nie. Gelukkig was Noodhulp nie hierna nodig nie, al was hulle goed voorbereid hierdie jaar met hulle geakkrediteerde sertifikate wat elke Noodhulp-kind vanjaar op die kamp ontvang het.

By Medemens was Machaela van der Westhuizen se besoek ’n hoogtepunt vir die kinders. Machaela het Downsindroom en het die kinders verras met ’n pragtige interpretasie van Prophet se “Houtkruis”. Die Meksikaanse Medemens-ete was weereens ’n dawerende sukses en tannie Dedré het behoorlik vlam gevat om die “Chilli”-eet-kompetisie te wen!

Veldbewustheid het gaan uitslaap in die veld en het skerpioene in die veld gaan soek met ultraviolet flitse en het die aand afgesluit met samesang om die kampvuur.

Plantekennis se turksvye-eet is immer gewild, maar het hierdie jaar nie die heerlike kosma, Melanie Mienie, en haar kombuisspan se etes uit die boonste rakke, oortref nie. ‘Sekere’ Kampraadlede het belowe om weer te kom kamp as daar weer sulke heerlike kos op die kamp voorgesit gaan word!

Spoorkennis se skuilings bou was groot pret en hierdie Graad 3’s het heerlik in hulle skuilings gerus voor die ‘katjie-kruip’-vertoning op die paradegrond.

Hoëveld se vlam kon nie geblus word deur die reënstorm Maandagaand nie en die elektriese weerligvertoning was iets om te aanskou! Tog was dit hierdie jaar ’n heerlike warm en droë kamp, al het hulle sommer baie reën vooraf voorspel. Die Weerkennis se weerman was sommer lekker deurmekaar met hierdie anderste weer. Die Hoëveld-kaskenades was dus steeds geniet as ’n prettige wateraktiwiteit, maar met die inlê-veldfliek kon die kinders net een fliek kyk voor die hemel se sluise oopgemaak het.

Spoorsny se nagmars het vir die eerste keer sedert 1989 uitgereën as gevolg van hierdie lekker storm, maar dit het hulle nie afgesit nie, hulle het na die Kampvuurkonsert hulle nagmars gehou terwyl die Graad 7’s lekker gesokkie het!

Met Kommunikasie se “Vuurhoutjie Koerant” en “Stasie Vuur en Vlam” berigte soos “Die Kreatiewe Kleuters en die diensbare offisiere”, “Oranje Speletjies”, “Handwerk is aan die Brand” en “Touwerk is ’n Jol” is dit duidelik dat die 2017 Hoëvelders behoorlik die kamp se temalied “Daar’s ’n Nuwe Generasie” gestand gedoen het! Dra die Hoëveld-vlam met trots oor na julle kommando’s en ons sien julle dan weer in 2018!

Deur: Jaconette de Kock