Huldeblyk aan Willie Grobler

deur Jan du Plessis

Sy heengaan is vir ons ’n baie groot verlies, maar ons loof die Here dat Hy iemand soos Willie Grobler toegerus en gebruik het om ons lewens te verryk met die besondere voorbeeld wat hy vir ons gestel het.

Hy was ’n deurleefde Christen, ’n sterk leier, ’n lojale vriend, ’n kindervriend, ’n volksman, ’n kerkman en gesinsman. So getuig mede-Voortrekkers wat ook hul ervaring van hom met my gedeel het.

Iemand wat in die laaste paar jaar saam met hom op die gebiedsdagbestuur van Die Voortrekkers was, het gesê: “Oom Willie was ‘old school’, ’n reguit man, wat vinnig ’n situasie opgesom het en leiding geneem het. Hy het nie doekies omgedraai nie, hy was altyd ferm, dog vriendelik. Ek glo dat as ons nog oor die Drakensberge getrek het, sou oom Willie een van die voorste Voortrekkers gewees het.”   Iemand anders het gesê: “Willie was ’n sterk leier, kon maklik besluite neem en het visie gehad.”

So was hy ook ’n lojale vriend op wie se ondersteuning ’n mens deurentyd kon staatmaak. Waar hy geleef en beweeg het, het hy ook vriende gemaak.

Dat hy ’n kindervriend was, spreek uit sy betrokkenheid by die Voortrekkers oor baie jare. By die Voortrekkers was hy betrokke as offisier, gebiedsekretaris en tot met sy afsterwe gebiedsleier vir die gebied Namibië. Hy baie kampe gereël en regtig moeite gedoen om geleenthede vir Die Voortrekkers te skep.  Hy het intens belanggestel in kinders en in dit wat hulle doen. Met sy vriendelike geaardheid was hy ook ’n gewilde offisier.

Willie was ’n volksman, baie trots op sy Dorslandtrekkerherkoms en die geskiedenis. Hy het vir Die Voortrekkers familiekunde aangebied en met die PV-toetskampe wat hy bygewoon het, was hy een van die offisiere wat die kinders se volkstrots getoets het.

Hy het die goeie stryd gestry, die  wedloop, wat aan die einde daarvan as gevolg van sy siekte baie moeilik was, voleindig en die geloof behou. Dit spreek van ’n besondere verhouding wat hy met die Here gehad het en uiteraard dan ook met die kerk van die Here. Van sy toewyding aan die Here en sy kerk kan baie mense met vrymoedigheid getuig.

Vir sy vrou en familie was hy die leier, steunpilaar en versorger wat met liefde sy verantwoordelikheid teenoor hulle nagekom het. Ons eer sy nagedagtenis.

Mag die Here vir Franci en haar kinders ryklik vertroos.